Wat wag vir boere in die jaar 2035?

Argieffoto (Foto: Matthew Miles/Unsplash.com)

Ons hoor gereeld ons lewe in onseker tye, maar Suid-Afrikaanse boere leef reeds jare lank met ’n lang lys van onsekerhede. ’n Boer is mos weerkenner, ekonoom, sakeman, landboukundige – en nog meer.

Dan is daar nog die verwagtinge van die staat. Nie net moet landbou-organisasies met die regering onderhandel om gunstige beleid vir die bedryf te skep nie, maar ironies genoeg word die landboubedryf in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) genoem as een van die sektore wat werkskepping in die land moet dryf om armoede, veral in landelike gebiede, hok te slaan.

Volgens die NOP moet dié bedryf meer as een miljoen werksgeleenthede teen 2030 skep, terwyl meer as 15,3% van alle huishoudings in Suid-Afrika reeds by landbou betrokke is.

Is dit moontlik om die NOP se doel te bereik? Die NOP se uitgebreide voorstelle behels die ontwikkeling van besproeiingstelsels, die toekenning van meer grond aan landbou, asook landbougemeenskapsprojekte.

Die Instituut vir Toekomsnavorsing het egter ook gepoog om dié vraag te beantwoord deur onder leiding van Doris Viljoen, direkteur van dié instituut, ’n studie oor die toekoms van landbou van stapel te stuur. Viljoen het hande gevat met AgriSA, Agbiz en talle ander belangrike rolspelers en ná tien maande die studie voltooi. Daar is volgens haar talle faktore wat die toekoms van landbou sal bepaal.

Tegnologie

Een van die talle faktore wat die NOP se doelwit in die wiele kan ry, is die vierde industriële rewolusie. Nuwe tegnologie in die landboubedryf kan ’n negatiewe uitwerking op werkskepping hê. Dink maar net aan hoeveel plaaswerkers vervang kan word met die outomatisering van hande-arbeid. Met die gemiddelde winsgewendheid van landbou-aktiwiteite wat slegs 5,97% is, is daar maar min ruimte om risiko’s te neem en sal die verhoogde produktiwiteit wat tegnologie kan meebring ’n daadwerklike rol speel in ’n boer se besluit om tegnologie in te span.

Die ander kant van die munt is dat daar ook meer werk geskep kan word, aangesien die bestuur van tegnologie, veral data-ontleding en data-stelselontwikkeling, in die toekoms belangriker sal word. Werksgeleenthede sal egter net beskikbaar wees vir diegene wat bekwaam is daarvoor. Dít is waarom, volgens die studie, die lae geletterdheidsvlakke en ’n vaardigheidstekort juis die landboubedryf se vermoë om werk te skep kan demp. Statistieke toon dat 51% van werklose mense nie matriek klaargemaak het nie en boonop nog 38% verder net matriek het as hul hoogste kwalifikasie.

Viljoen meen die landboubedryf ding mee op internasionale vlak, en kan nie bekostig om agter te raak nie – die grootste deel van werk is tans afkomstig van die vrugtebedryf – ’n mark wat grootliks hul produk uitvoer en genoop is om mededingend te bly.

Die vooruitgang van tegnologie sal landbou in die toekoms kan losmaak van die behoefte aan bruikbare grond. Nuwe, moderne metodes van verbouing, soos om plante vertikaal te verbou, kan nuwe geleenthede skep vir mense wat nie toegang het tot vrugbare grond nie, maar ook deel wil wees van die bedryf.

Vaardigheidstekorte

Die landboubedryf bly steeds arbeidsintensief in vergelyking met ander sektore. Om te verseker dat die bedryf in die toekoms steeds werk skep, sal die vaardigheidstekorte in die land aangepak moet word. Daar is ’n lang lys van vaardighede wat nodig gaan wees vir die landbou om te groei. Presisieboerdery kan ’n boer se produktiwiteit verhoog en die boer in staat stel om met ’n kleiner span meer te vermag. Die boer het egter nog steeds ’n span van kundiges nodig, veral in die verwerking van data, om die plaas optimaal te bestuur.

Navorsers in die studie moedig jong mense aan om in die volgende velde opleiding te ontvang:

  • beleid- en beplanningsbestuur,
  • navorsing en ontwikkeling,
  • plaasbestuur,
  • inligtingsbestuur,
  • voedsel- en drankwetenskap,
  • bedryfsingenieurswese,
  • landbouingenieurswese,
  • bemarking,
  • sagteware-ontwikkeling,
  • dieselwerktuigkunde,
  • dataverwerking en nog vele meer.

Volgens die studie sal daar in die toekoms meer werk geskep kan word in die landboubedryf se waardeketting – minder mense sal op plase werk, maar beter salarisse verdien weens hul vaardighede. Meer mense sal betrokke kan raak by die verwerking, vervoer en verkoop van kosprodukte en die ontwikkeling van nuwe landboutoerusting en landbouverbouing.

Die verbouing van alternatiewe gewasse

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy jongste staatsrede die daggabedryf ’n hupstoot gegee. As die regering, soos hy genoem het, beleid wil instel om die bedryf te help, kan dié bedryf oor tien jaar beduidend groei. Ramaphosa was vol hoop dat dié bedryf die potensiaal het om meer as 130 000 werksgeleenthede te skep. “Ons wil graag die nodige klimaat skep vir die daggabedryf om te floreer soos in ander Afrikalande,” het hy gesê. Volgens hom het die daggaplant veel meer gebruike as net om dit te rook, en sal Suid-Afrikaners voortaan meer oor dié gebruike uitvind.

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) en Knorr het onlangs ’n verslag uitgereik waarin hulle 50 kossoorte van die toekoms gelys het.

Hulle het spesifiek na kossoorte gekyk wat plantaardig is, hoë voedingswaarde het en verbou kan word met die kleinste invloed op die omgewing. Dit alles, saam met smaak, kulturele voorkeure en die verspreiding van die gewas tussen verskeie klasgroepe is van die faktore wat in ag geneem is om met die top-50 kossoorte van die toekoms vorendag te kom.

Seewier is boaan die lys. Dan volg bone en lensies – die kossoort is hoog in vesel en vitamien B, asook ’n goeie bron van proteïen. Boonop het dit min water nodig om verbou te word. Die kaktusplant is ook hoog op die lys omdat dié vetplante in uiters droë streke steeds kan floreer. Kaktusse is veelsydige plante; daar is soorte wat eetbaar is, en die plant se olies kan vir vele doeleindes gebruik word. Sampioene verskyn ook op die lys. Daar is meer as 2 000 sampioene om van te kies – en dit kan verbou word in plekke waar min ander gewasse sal groei.

Daar is verskeie nuwe opwindende geleenthede op die horison, maar kan die regering die nodige steun aan die landboubedryf lewer om die geleenthede ten volle te benut? Die studie se gevolgtrekkinge noop die regering om beter beleidsbesluite te neem sodat die NOP se doelwitte bereik kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.