‘Wat wil Ramaphosa met grondonteiening bereik?’

Pieter Groenewald. Argieffoto: Twitter

Om ʼn vooruitstrewende Suid-Afrika te skep, moet daar wedersydse respek vir mekaar wees. Respek vir mekaar as individue, respek vir mekaar se verskille, respek vir mekaar se verskillende kulture, verskillende geskiedenis en verskillende tale.

Só het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, Maandag tydens die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gesê. Hy het gesê ʼn gedeelte in die aanhef van Suid-Afrika se grondwet stel dit baie duidelik: “Ons, die mense van Suid-Afrika … glo dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid….”

Groenewald het rakende die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding gesê blote aanvaarding van die beginsel is negatief vir die ekonomie en voedselsekerheid.

“Die vraag is wat die president met onteiening wil bereik. Indien dit bloot is om vir mense grond te gee, moet dit so gesê word. Want om net grond vir iemand te gee, maak die persoon nie outomaties ryk nie.

“Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming erken dat 90% van die bestaande projekte om swart boere te vestig, misluk het. Daarbenewens wil 93% van alle suksesvolle eisers nie die grond hê nie, maar geld.”

Hy het gesê die VF Plus verwerp grondonteiening sonder vergoeding omdat dit volgens dié party alle eiendomme, op ʼn plaas, ʼn dorp of in ʼn stad sal raak. “Dit sal die ekonomie nadelig beïnvloed en potensiële beleggers afskrik om in Suid-Afrika te belê.”

Groenewald het gesê hy wil dit duidelik aan Ramaphosa stel dat die VF Plus hande wil vat en bou aan ʼn beter toekoms vir almal, nie aan ʼn beter verlede nie. “Soos dit in isiZoeloe lui: Ha ghe si bhambisane. I sandla siya ghesana.”

Groenewald het gesê hy wil byvoeg hy is ʼn Afrikaner en ʼn kind van die grond van Afrika. “Afrikaners en wit mense wil bydra tot ʼn beter toekoms vir almal in die land. Ons kan help om ʼn beter land te bou, maar dan moet daar wedersydse respek vir mekaar wees.”

Groenewald meen daar is tans ʼn aanslag op Afrikaans in skole en universiteite “ten spyte daarvan dat die grondwet lui almal geregtig is op moedertaalonderrig”.

Hy het bygevoeg daar kan egter nie sprake van respek wees nie as Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR vir onderwys, “Afrikaans met ʼn rassekwas wil bykom asof Afrikaanse onderwys gelyk staan aan wit bevoorregting, of waar hy optree teen skole wat reeds veelrassig is”.

Groenewald het ook gesê 60% van Afrikaanssprekendes is bruin mense. “Dit skep nie wedersydse respek nie; dit laat vrae ontstaan.”

Die president het in sy staatsrede baie klem geplaas op werkskepping, in besonder vir die jeug. Hy het onder meer gesê: “Ons bou ʼn land waarin ʼn persoon se vooruitsigte deur eie inisiatief en harde werk bepaal word, en nie volgens die kleur van hul vel, geboorteplek, geslag, taal of inkomste van hul ouers nie.”

“Ek stem daarmee saam,” het Groenewald gesê. “Die realiteit is egter dat regstellende aksie en breë basis swart ekonomiese bemagtiging jong wit mense ontneem van werk, beurse en geleenthede, weens die kleur van hul vel. Is dit regverdig dat ʼn jong man of vrou wat in 1994 of daarna gebore is in die nuwe bedeling benadeel moet word deur regstellende aksie?”

Groenewald meen dat daar ʼn afsnypunt hiervoor moet kom. “Swart studente wat tans universiteitsgrade behaal, is meer as dubbel die getal wit studente. Indien ons wedersydse respek vir mekaar wil bevorder en die ekonomie wil laat groei, moet meriete die kriterium wees met aanstellings, en nie velkleur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ada ·

Mooi gese!!!!!!!!
Op die man af!
Baie dankie.
Ek sou dit waardeer het indien daar ook oor plaasmoorde gepraat was.

Erick ·

Ek sal net wil weet of die boerderygemeenskap ‘n plan in plek het indien plase begin vat word sonder vergoeding?

Linda Gouws ·

Pieter Groenewald, dankie dat jy opstaan vir die afrikaanssprekendes se regte in die Parlement.

Eish ·

Puik toespraak. Ek kan my met alles vereenselwig wat mnr. Groenewald hier aanspreek. Ek kan net hoop dat Afrikaanse Kaukasiërs in die kamp gaan kom laer opslaan met die verkiesing in 2019 aangesien geen ander party die minderheidsgroep se belange in die mate op die hart dra nie.

Avo boer ·

Pieter Groenewald,well gedaan .Jy het my stem in die toekoms.Ek stem met vorige kommentare ,Dat plaasaanvalle n groot probleem is,n ramp .Daar gebeur baie voorvalle waarvan die publiek nie van bewus is nie.Die arbeid op die plase word ook geteiken in sommige gevalle.

Nieko ·

Gee hom ‘n dubbel “Bells”. Pragtig gestel en op die man af

PJC ·

As Afrikaners in die eerste plek op groot skaal vir hierdie Afrikaner party gestem het kon hulle in koalisies met ander partye baie meer reg gekry as wat tans die geval is.

Boet Fasie ·

Kom ons kyk of die nuwe president die balls het om almal gelyk te stel en plaasmoorde te veroordeel. Kom ons kyk of alle rasse en alle tale vir hom ewe belangrik is en of hy regtig in Mandele se voetspore wil vol en Suid Afrika wil vereenig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.