Wat word van misdaadrekords vir inperkingsoortredings?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: University of the Free State/Facebook)

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis behoorlike terugvoer oor die regering se planne om amnestie toe te staan aan burgers wat hulle tydens die Covid-19-pandemie skuldig gemaak het aan oortreding van die inperkingsregulasies.

Die organisasie het Woensdag in ʼn skrywe aan Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, duidelikheid hieroor geëis.

“AfriForum het ʼn aantal klagtes ontvang van mense wat negatief deur ʼn misdaadrekord geraak word omdat hulle nie die dikwels belaglike inperkingsregulasies gehoorsaam het nie, soos die jong pa wat in hegtenis geneem is omdat hy formulemelk vir sy baba gaan koop het,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

“Die regering het in die verlede laat deurskemer dat hierdie rekords geskrap gaan word en ons wil weet wanneer dit gaan gebeur.”

Volgens AfriForum sit duisende Suid-Afrikaners met misdaadrekords nadat die ramptoestand opgehef is.

Die polisie het verlede jaar gesê meer as 400 000 is net in 2020, die eerste jaar van die inperkingstyd, in hegtenis geneem vir die oortredings van die regulasies.

“Terwyl sommige waarskuwings ontvang het, het diegene wat ʼn skulderkenningsboete betaal het misdaadrekords wat in die pad kan staan van toekomstige werksgeleenthede of oorsese reise.”

In sy brief vra AfriForum of die minister bewus is van enige stappe wat deur die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen word om ʼn vorm van amnestie te voorsien vir Suid-Afrikaners wat Covid-19-inperkingsregulasies oortree het.

AfriForum voer aan dat dit in die beste belang van geregtigheid en regverdigheid sal wees om só ʼn soort amnestie in te stel en het ʼn beroep op die minister gedoen om werk hiervan te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gaitsigubib ·

Die WHO het nou amptelik aangekondig dat veelvuldige sklerose n newe effek kan wees van die ander goed wat hulle op mense afgedwing het. Wees dus bedag daarop.

Casper ·

As ek reg kan onthou was die regulasies in geheel as ongrondwetlik verklaar en moet daai rekords van die persoon as kriminele rekords herroep word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.