Water en riool: Kgetlengrivier-munisipaliteit sit met gevoude hande

AfriForum se privaatvervolgingseenheid in die Hooggeregshof in Mmabatho (Foto: AfriForum)

Die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit in Noordwes het ’n hofbevel willens en wetens verontagsaam en niks gedoen om die water- en rioolwerke by Koster reg te ruk nadat hy in die Mmabatho-hooggeregshof beveel is om dit te doen nie.

Só het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, vandag namens die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) in die hof in Mahikeng aangevoer.

Hy het betoog dat Joseph Mogale, die bestuurder, se verskonings en aanname dat “historiese uitdagings” hom aan bande gelê het, geen verweer is vir die doelbewuste versuim van sy pligte nie.

Nel het daarop gewys dat die minagting van hofbevele ernstige gevare inhou en gevolge vir die hele samelewing het. Hofbevele is bindend op alle burgers. “Die respondent het die bevel geminag en daar rus nou ’n verpligting op hom om te verduidelik waarom hy die bevel oortree het.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum (Foto: AfriForum)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens KBI-inwoners op wat wil hê dat Mogale 90 dae tronkstraf opgelê word vir minagting van die hof.

Mogale se regsverteenwoordiger het aangevoer hy het nie die bevel gehoorsaam nie omdat ’n skikking daarna tussen partye bereik is. Die bevel wat van toepassing op Mogale was, het dus verval en sy pligte is sodoende van hom af “weggeneem”.

Hy voer aan die KBI was ná ’n bevel op 12 Januarie vanjaar weer in beheer van die riool- en waterwerke en Mogale kon gevolglik nie sy pligte en verantwoordelikhede hervat of nakom nie. Daar is volgens hom dus geen sprake van doelbewuste optrede in kwade trou nie.

Nel het hierop gesê Mogale was reeds voor dié datum skuldig aan minagting van die hof. “Daar was géén aanduiding van sy kant af dat hy die bevel wou uitvoer wat hom tot verantwoording geroep het nie.”

Uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

“Our People” kom mos weg met als. Blote onbevoegdheid! Raak ontslae van sulke mense wat in poste sit, groot salarisse verdien en geen duit omgee om die werk te doen waarvoor hulle betaal word nie.

Kokerboom ·

Mooi so Gerrie!! Tree asb AL die ANC beheerde munisipaliteite aan vir wanbestuur. Laat Staat koste betaal!

Cherokee ·

Nee, kostes word betaal deur skuldiges (nie dat dìt die staat verontskuldig nie!).
Ongelukkig beteken dit dat die belastingbetalers betaal, hetsy staat of munisipaliteit. Persoonlike kostes behoort gehef te word.

Frank ·

“Histories”? Ai, hier kry Jan van Riebeeck seker weer die skuld.

gatgogga ·

Stuur die Kubaanse ingenieurs om sy historiese uitdagings vir hom op te los.
Kan nie evolusie vir alles blameer nie – as dit is wat hy as sy historiese uitdagings sien.

Spookasem ·

Ek wonder hoeveel mense hierdie kommentaar verstaan? Nou lekker gelag.

Samuel ·

Kan Afriforum nie sommer die bestuur van die munisipaliteit oorneem nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.