Water-regrukplan: ‘Dit skep burokrasie, nie oplossings”

water-kraan

Foto: Pixabay.com

AfriForum het Donderdag gesê Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, se regrukplan vir Suid-Afrika se departement van water en sanitasie probeer ou probleme met onnodige burokrasie aanpak.

Die minister het hierdie regrukplan vandeesweek tydens ’n tweejaarlikse konferensie van die Waterinstituut van Suidelike Afrika (Wisa) in Kaapstad bekendgestel.

Dié regrukplan bevat ’n meesterplan vir water tot en met 2030 en wil ’n afsonderlike gesag hiervoor stig.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder van omgewingsake, verwelkom AfriForum die minister se erkenning dat die situasie ten opsigte van water heeltemal handuit geruk het en dat dringende stappe nodig is, maar waarsku ook dat die aangekondigde regrukplan met groot omsigtigheid bejeën moet word.

“Die uitdagings – soos waterbesoedeling en waterverliese – is al ou nuus en ondanks doelgerigte kabinetsbesluite het die departement oor twee dekades bitter min daaraan gedoen. Wat ironies is, is dat dieselfde bestuurspan wat vir die agteruitgang verantwoordelik was, behou is om die regrukpoging te lei. Dit wil voorkom asof die departement goed is om gestelde doelwitte te onderskryf, maar nie oor die kundigheid en vermoë beskik om dit uit te voer nie.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die regrukplan blyk net nóg leë beloftes te bevat terwyl dit selfs meer onnodige burokrasie skep. “Die konsepplan voldoen nie aan die vereistes wat daarvoor gestel word nie, naamlik ’n geïntegreerde aksieplan om spesifieke uitkomste te bereik. Dit is eintlik meer van ’n strategiese doelwitdokument wat nie uitspel hoe die uitkomste bereik gaan word nie.

“Belangrike bestuursaksies soos doeltreffende waterbeplanning en implementering word totaal afgeskeep, terwyl die departement nog moet herstel. As ons dit moet beoordeel na aanleiding van die geskiedenis, sal dit net nog ’n duur laag burokrasie byvoeg en ekstra werksgeleenthede skep, terwyl die waterprobleme nie opgelos word nie.”

Volgens Brink is dit onwaarskynlik dat nóg ’n waterliggaam die agterstande in ’n bietjie meer as ’n dekade sal uitwis en spesifieke doelwitte sal behaal nadat die hele departement dit in bykans ’n kwarteeu nie kon regkry nie. “Die regte mense met die regte vaardighede is nodig om die proses te dryf, nie noodwendig méér mense nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sarel ·

Tipies , veroorsaak miljarde se skade sodat n groot projek geskep kan word om baie geld te kan beheer, hoe meer geld hoe meer wekgeleendhede en hoe moeiliker om wanbesteding te monitor. So bly alles maar die selfde . Wat word by beeindiging van die werk met die werkers? Afbetaal ?

Sanna ·

Al ooit beraam of die konstruksie van nog reservoirs om die vloedwater uit die eeu oue stormwaterpype op te vang nie goedkoper gaan wees as desalinasiekonstruksies nie? Miljoene liters vars bergwater loop die see in. Die tonnels onder die stad kan oorstroom weens net ‘n ligte reentjie op Tafelberg.

Hantie ·

En so is Vorna Valley (Midrand) vir die soveelste keer die week sonder water…. ‘n rekord 5 dae.
Bestaande infrastrukture is nooit onderhou nie. Pype bars en dan neem dit dae om reg te maak. Sodra water herstel word, bars die pyp net doodeenvoudig op ‘n ander plek onder die druk van die watervloei.

Kompleks op kompleks word goedgekeur en opgerig maar bestaande infrastruktuur word net onder meer en meer druk geplaas

IK ·

Met die gejubel van vryheid in 1994 het ook die neseiers wat munisipaliteite gedurende die apartheidsjare opgebou het vir instandhouding- en uitbreiding van infrastruktuur net doodeenvoudig verdwyn. Gevolglik is beplanning vir die toekoms ook ‘n skop op die agterwêreld gegee. Die houding dat more vir homself sal sorg omdat more vandag nog nie bestaan is ‘n algemene denkwyse. Junie 2016 waarsku die vakbond UASA op die voorblad van sy koerant ‘Water: We are running on empty!’ Hierdie waarskuwing dateer egter terug na selfs so vêr as 2010!! Dit was ‘n geleë tyd met die droogte om damme soos die Vaaldam en Theewaterskloof dieper te maak en die bakinhoud te behou maar met minder damoppervlakte ook verdamping te beperk. Hierdeur sou ook grondherwinning plaasgevind het vir verdere gebruik. Immers is ek seker dat Israel dit sou gedoen het maar nee, dis mos ‘ons vyande’ want daar is ‘n chinese gesegde wat lui ”n wyse man maak eie besluite maar ‘n dwaas volg publieke opinie’.
Oplettend is hoe politieke denkwyse alles opfoeter met verkeerde kaders in beheer hetsy plaaslike regering (munisipaliteite), provinsiaal en hoër op. Ons sal voort ‘struggle’ met ‘strugglers’ in beheer wat nie die vaagste benul het maar elke maand ‘n aansienlike bedraggie geldjies kollekteer ‘vir dienste gelewer’. Daar is geen pille, hou dus Noord en foeter voort . . .

schalk ·

Daar is die rekenaarspeletjie SIMS wat my laat dink aan wat huidig in Suid Afrika gebeur by munisipaliteite en politiek beheerde provinsies of te wel verkiesings areas.
Ons kan ons eie speletjie bemark in SA genaamd SIMPEL CITY….. gebaseerd op al die simple besluite wat geneem word.

SjN ·

Kyk mooi na die foto, tipies Afrika, waterpyp word met draad aan paal vas gemaak.

John ·

…. en gaan ons betaal vir hierdie nuwe plan… terwyl die dreine oorloop en die bottelwaterwinkels opskiet soos daggaplantasies… laasgenoemde ook wagtend op besproeiing en wettiging… Zzz… Wat van ‘n dagga-instituut en ‘n ondersoekspan na Kanada en… en… Lesotho waar die Katse-dam ‘n groot bydrae maak om uitvoere volhoubaar te maak. Met die baie riool wat in die see gestort word, is ontsouting dalk nie so kosher nie soos wetenskaplikes (mense in die buiteland kundig is tov chemie) wat hier non-entiteite is soos die WNNR, sou kon aandui. Maar Boom is mos goed teen aardverwarming en stres… 6 boompies per huis.

Munisipale gebiede ·

Hoe verduidelik die minister die feit dat sommige munisipale gebiede alreeds sedert November 2017 sonder water in hul huise sit? En dit is mense wat hul rekeninge pligsgetrou betaal!

marous ·

Snaaks hoe al die “doem profete” se waarskuwings nou so een een bewaarheid word …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.