Water, rioolkrisis in Louis Trichardt getakel

(Foto verskaf deur die VF Plus)

Die VF Plus is bewus van talle klagtes wat instroom vanaf inwoners in die Makhado- plaaslike munisipaliteit (Louis Trichardt) in Limpopo rondom die water- en rioolkrisis en is tans op dié dorp met ʼn oorsigbesoek.

Rioolwater vloei reg deur huise en tuine, mangate is verstop en van dienslewering is daar nie sprake nie.

“Die gemeenskap het die situasie al verskeie kere sonder sukses by die Menseregtekommissie (MRK) aangemeld,” sê Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus.

Die VF Plus het reeds in Oktober 2022 ’n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, Tshimangadzo Ndou, asook Limpopo se LUR vir samewerkende regering, Baisikopo Makamu, om dadelik ʼn aksieplan saam te stel om die waterkrisis op te los.

“Geen samewerking in hierdie verband het gerealiseer nie en geen poging tot effektiewe kommunikasie is aangewend nie. Dit bewys dat die politieke wil om dienslewering te verbeter, duidelik ontbreek.”

Maritz sê die VF Plus se aksiestappe tans behels onder meer om Louis Trichardt se water- en rioolprobleme te eskaleer tot provinsiale- en nasionale vlak weens die Vhembe-distriksmunisipaliteit se versuim om lekkasies te herstel en verouderde water- en rioolinfrastruktuur te vervang en te onderhou. Die party eis ook dat die premier, Stanley Mathabatha, ‘n dringende ondersoek na hierdie saak van stapel stuur.

“Daar moet ʼn geskrewe plan van aksie opgestel word om die krisis op dringend op kort- en langtermyn oplossing te vind. Die VF Plus het die saak ook na die party se parlementslid vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Michal Groenewald, verwys om die saak in die parlement se Cogta-komitee te hanteer.”

Maritz meen inwoners se menseregte word geskend deur ‘n gebrek aan water en ‘n skoon omgewing en indien ’n cholera-uitbreking plaasvind, sal die VF Plus alle betrokke departemente aanspreeklik hou. “Die VF Plus dring aan op antwoorde en daadwerklike optrede. Louis Trichardt verdien beter as die ANC.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hannelize ·

Mense aanvaar dit nie. Hulle word gedwing om met dit te leef deur die munisipaliteite. Ek bly in Phalaborwa & ons word gyselaar gehou deur ons munisipaliteit hulle werk dood eenvoudig nie oor ‘n naweek nie ook nie na 4pm in die middae nie. Of dit nou verstopte riool, bars water pype of elektrisiteit is. Jy moet maar wag tot Maandag & hoop hulle kom om die probleem vinnig uit te sorteer.

Harley Davidson ·

Al uitweg vorentoe is om co ops te stig en die verantwoordelikheid weg te vat van onbevoegde munisipaliteite, dit kom dan neer op sorg vir die gemeenskap en weerhou belasting geld ,dit is wat demokrasie is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Weerhou belasting en eis dat duur en onbekostigbare party politiek uit plaaslike owerheidsvlak verwyder word. Alle stadraadslede is deeltyds en onafhanklik, en moet inwoners wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Burgerregte organisasies en drukgroepe beskik oor die hulpbronne om die bal aan die rol te sit. Gewone inwoners is magteloos.

Harley Davidson ·

Die gewone inwoners moet die organisasie help en bystaan .

capie ·

As die VF Plus reeds in Oktober 2022 bewus van die saak was en dit toe met die munisipaliteit opgeneem het en nog niks het gebeur nie wys dit net hoe slapgat hulle self is en hoeveel hulle omgee vir die mense. Dit is tyd dat die persoon / persone betrokke op ‘n daaglikse basis by die probleem betrokke raak en persoonlik op die toneel met die verantwoordelike persone betrokke raak. Die skryf van ‘n brief wat net eenkant gegooi word deug nie, Dit geld ook vir die ander politieke partye wat sogenaamd “omgee”

Samuel ·

Politieke partye gee net vir hulself om. Die VF+ kan nou skouerophalend sê hulle het iets gedoen.

Miss J ·

Stem, berig na berig in koerante en in die nuus gaan oor swak diens, geen diens en water, riool in strate en die lys gaan aan en aan. Al die politieke partye praat, skryf briewe maar chaos woed voort. Hierdie is ‘n humanitere krisis, onhigiëniese toestande , plekke dae lank sonder water, net een groot gemors. Burgers moet betrokke raak en self begin inspring en help. GEEN politieke party of regering lyk my het die wil om iets te verander nie. Niemand in mags posisies gee om vir burgers se krisisse nie, mense sal dit moet verstaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Miss J, mense in magsposisies word befonds deur die res van ons. Die VF Plus se lede in die stadsraad se salarisse begin ook by meer as R40 000 pm, plus byvoordele. Geen politikus wil die appelkar omkeer nie.

Nico ·

Kan die Boere volk nie eerder saam staan nie, dit is mos maklik om vinger te wys, die beste skeidsregter sit mos langs die veld.

domheks ·

Gelukkig is die naam verander na Makhado. Louis Trichardt klink nie net beter nie, maar was in die verlede skoner!

Vriendelike Frikkie ·

Dit gaan net so in Capital Park in Pretoria. Hulle kan net die “Makhado” met “Capital Park” vervang dan is die berig nog steeds geldig. Een van die “slagoffers” moes gate deur haar betonmuur kap sodat die riool kon uitvloei straat toe.

Harley Davidson ·

Capital park het altyd ‘n sterk inwoners komitee gehad CAPRA wat het van hulle geword?

Karlahari ·

Maar ons wil R900 miljoen in die buiteland mors sodat toeriste kan sien hoe riool in die strate af vloei.

Gerhard ·

Iets wat ek nie lekker verstaan nie, of ek is dalk nie slim genoeg nie, maar, as ek nie my werk reg doen en sorg dat my werk op datum is nie, gaan my werkgewer my in die pad steek. Hoe werk dit dat, munisipaliteite net eenvoudig agteruit gaan, maar die flippen mense in beheer en wat die werk moet doen en nie doen nie, bly in hul posisies. Daar MOET n manier wees om van hierdie klomp wat hulle dik eet aan KFC terwyl die eens mooi en spoggerige dorp/e tot niet gaan. Daar kan mos ‘n mosie van wantroue en wanbestuur ingedien en dan ook summier hanteer word? Ek weet nie, is hier dalk iemand wat my dit kan verduidelik asb. Ons mense sal moet begin saamstaan en bitter vinnig ook.

Annalize ·

Dis bietjie rof…
Dalk moet mens maar meer begin kyk na alternatiewe water oplossings in plaas daarvan om te sit en wag vir die ouens wat in die eerste plek nie die geld het om iets reg te maak nie as gevolg van korrupsie nie, en tweedens, eintlik net daar sit oor dit ‘n salaris is.

My siening ·

Ons wil Isreal veroordeel maar hulle poef loop nie in strate en huis rond nie. ANC haal balk uit jul oog want die ander lande het splinters!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.