Water-tekort: JHB grootliks herstel; PTA nog sonder water

Argieffoto

Argieffoto

Minder as 2% van inwoners in Johannesburg sukkel nog met watertekorte, maar groot dele van Pretoria het nog steeds nie watertoevoer nie.

Meeste wateropgaartenks en -torings herstel teen ʼn goeie tempo ná watertekorte, het Johannesburg Water Woensdag gesê. “Minder as 2% van die inwoners ervaar steeds lae waterdruk of het geen water nie,” het Millicent Kabwe, woordvoerder van die organisasie in ʼn verklaring gesê. “Die Hursthill-opgaartenk en Alexandra Park-, Presidentpark- en Randjesfonein-watertorings is ook herstel.”

Voorstede soos Westdene, Hursthill, Albertville, Martindale, Triomf, Westbury, Mount Clare, Coronationville, Bosmont, Newlands, Benrose, Denver en Malvern se watervoorsiening is ook herstel.

“Die South Hills-watertoring en Rabierif-opgaartenk het nog steeds nie water nie,” het Kabwe bygevoeg. “Die voorstede wat hierdeur geraak word sluit Rabierif, Mayibuye, Risana, South Hills, Thulisapark en omliggende gebiede in.”

Johannesburg Water het deur middel van watertenks tydelike verligting gebring.

Kabwe het bevestig hospitale, klinieke en skole kry voorkeurbehandeling totdat die situasie verbeter.

Johannesburg Water doen ʼn beroep op inwoners om water spaarsamig te gebruik.

Dele van Pretoria het Woensdagmiddag ook nog nie water gehad nie. “Weens vandalisme en kabeldiefstal by die Palmiet-pompstasie, kan Rand Water nie water verskaf aan meeste voorstede in Pretoria nie,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. Watertenks is na die volgende gebiede gestuur:
– Rooihuiskraal
– Mooiplaats
– Laudium
– Erasmia
– Itereleng
– Atteridgeville
– Christoberg
– Claudius
– Mooiplats
– Gerhardsville
– Kalafong-hospitaal

Die stad het inwoners gevra om veral watergebruik te beperk vir nie-noodsaaklike aktiwiteite soos om tuine nat te spuit, besproeiing en om swembaddens vol te tap.

Die stad Tshwane vra om verskoning vir die ongerief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theresa ·

Amazing. Alles word net slegter en alles gaan net meer agteruit en wat doen hulle. Vra meer geld en verhoog die gelde wat ons moet betaal. Dis pateties !! Is daar enige iemand daar wat weet wat hulle veronderstel is om te doen??

isobel ·

ek kan nie sien hoe mense water spaar samig moet gebruik as hulle nie eers water het nie en as rand water al die lekkende pype op die sypaatjies herstel sal daar ook minder probleme weesw

Johannes ·

Miskien is dit nou maar tyd vir gewapende weerstand teen die moeghoe regering

alet ·

IS daar by die hooggeplastes se huise ook nie water nie of staan daar n permanente water kar vra maar net. Hoekom toytoy hulle nie nou nie Water is tog belahgrik of hoe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.