Waterbeperkings: Boetes in Jhb uitgereik

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

Die Johannesburgse metropolisie het 139 kennisgewings, 41 waarskuwings en 52 boetes van R1 000 elk uitgereik aan inwoners wat nie gehoor gee aan dié stad se waterbeperkings nie.

Tidimalo Chuene, woordvoerder van die stad, het gesê baie van die oortredings het aan die lig gekom nadat wenke van bekommerde gemeenskapslede ontvang is.

“Die toepassing van afdeling 44 (3) van die waterdiensverordening volg ná ʼn aankondiging van nog waterbeperkings en die betrokke tariewe wat deur die stad Johannesburg gemaak is op Maandag 5 September 2016.”

Die departement van water en sanitasie het die stad vroeër versoek om met onmiddellike inwerkingtreding sy waterverbruik met 15% te verminder nadat die vlak van die Vaalrivierstelsel onder 60% gedaal het.

Rand Water, wat water aan die metro’s voorsien, het sowat twee weke gelede alle metro’s se watertoevoer met 15% verminder weens die droogte. Daar is ook ʼn sogenaamde drukklep op alle reservoirs geplaas. Die stad het gesê dat reservoirvlakke stabiel is ná die 15%-afname in die watervoorraad. Geen probleme is tot dusver met die opgaring ervaar nie.

Die stad voer aan dat die drukklep, in kombinasie met die huidige wetstoepassing, die huishoudelike gebruik van water met slegs 3,5% laat daal het. Dit is ver onder die vereiste 15%-vermindering.

“Damvlakke is steeds baie laag in die Vaalrivierstelsel en dit is daarom belangrik vir verbruikers om die waterbeperkings in ag te neem. Ons bedank ook alle inwoners en besoekers aan die stad wat water bespaar het. Ons kan egter nie op ons louere rus nie,” het Chuene gesê.

Verbruikers word aangemoedig om watervermorsing aan te meld by 011 758 9650.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ronel ·

Ek wens hulle wil dit in Kroonstad ook toepas. Ons was al vir weke lank sonder water agv die droogte en natuurlik swak munisipale bestuur. Na ongewone winterreën het ons darem nou weer water. Glo my as ek sê dat hier sowaar as vet mense is wat hul tuine natlei met tuinslange en sproeiers. Teen hulle word nie opgetree nie!!!! Asb!!!!!! Kom deel boetes hier ook uit!!!!! Dan is daar mense wat alles in hul vermoë doen om water te bespaar, soos badwater wat gebruik word om bv potplante nat te gooi of selfs stoepvloere mee te was.

Uvonka ·

Ai hulle is vinnig om ooral waterbeperkings toe te pas en nog vinniger om boetes uit te reik. Ek wil weet wie betaal vir duisende liters water wat gemors word a.g.v. gebarste waterpype wat vir dae aaneen loop.

Lance ·

Goedso nou moet ons net sien hoe en of hulle dit sal kan invorder …baie wette en regte in SA maar die toepassers is self vrot van die korrupsie …

cynthia ·

by ons is daar n vrou wat jou uitmekaar vloek as jy vir haar se daar is water beperkings, sy mag nie n tuinslang gebruik of besproeing in die dag nie, sy gaan net aan.

foxi ·

Ha ha…..wie bluf hulle nou! Wat van water wat die pad af stroom met gebarste water waterpype? Wat van water wat uitborrel soos n fontein op n sypaadtjie……wat van diegene wat wasgoed onder n lopende kraan afspoel vir ure en niemand doen iets daaromtrent nie. BLIND EYE. As die owerhede die vloedwater pype langs die paaie net n bietjie wil oopmaak en skoonmaak, kan daardie water vrylik loop waar dit opgegaar word. Maar die vuilis word daarin
ingegooi. So….hoe kan die publiek die owerhede beboet wat nie hul werk doen nie………

Theresa ·

Beslis sou dit wonderlik wees om die owerheid wat plig versuim, te beboet. Die persone wat lankal moes gaan kyk het en werk daarvan moes maak by die Pta-Oos begrafplaas moet beboet word omdat daar water gesteel word op ‘n daaglikse basis. Onwettige plakkers tap water uit die krane (die wat nog nie afgebreek is nie!) en betaal nie ‘n sent nie. Spaar ook nie die water nie, want dis lekker om die kraan oop te laat en net te laat stroom. A nee a. Begin by die regte plekke vir waterbesparing. Stukkende pype, munisipale en telefoondiensmense wat pype oopkap en nie bodder om dadelik te laat herstel nie!! Reservoirs. Onwettige mense wat dit steel en dan die ouens wat soos gewoonlik probeer spaar – maar lekker maklik is om vas te vat.

Johanna Botha ·

As ek die kommentaar lees kan mens net se dis n hengse GROOT gemors van wanorde en wetteloosheid en totale verval …die nuwe SA waarna almal so uitgesien het ne …ok baie meer mense regte en en ….net snaaks dat die boewe buite rondloop en die wetsgehoorsame mense agter hulle hoe mure wegkruip

Esther Sequeira ·

Ek wil graag weet, hoe regverdig jy die pryse wat tussen klein en groot huishoudings betaal word vir water en krag. Die groter huishoudings gaan automaties meer betaal aangesien dit duurder word hoe meer jy verbruik, wat nog te meer beboet word. Die hoeveelheid mense wat moet stort en wie se wasgoed gewas moet word is beslis ‘n faktor. Munisipaliteite moet ook beboet word wanneer waterpype bars en vir ure soos riviere stroom voor dit herstel word, soms 3 dae na mekaar van presies dieselfde pyp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.