Waterbeperkings in Bloem gaan eers voort

kraan-water-glas

(Foto: pixabay)

Bloemwater het Dinsdag gesê hy gaan nog nie Bloemfontein se waterkrane oopdraai nie.

Die waterlewering is van Vrydag af tot slegs 30% vir sekere gebiede van Bloemfontein beperk oor die R1 miljard wat Mangaung-metro glo aan Bloemwater skuld. Party woonbuurte het die afgelope vier dae nie ’n enkele druppel water gehad nie.

Volgens ’n verklaring uitgereik deur Bloemwater is daar na afloop van die instel van die beperkings ’n dringende ingrypingsvergadering deur die Vrystaatse provinsiale regering tussen die Mangaung-metro en Bloemwater belê.

“Die raad van Bloemwater het sy huidige finansiële situasie oorweeg en dit is onvolhoubaar weens die voortdurende wanbetaling van rekeninge deur munisipaliteite,” lui die verklaring.

Die Mangaung-metro het sy voorgestelde betalingsplan voorgelê en daar is besluit dat Bloemwater die voorgestelde plan aan die raad sal voorlê en daarna aan die metro terugvoer sal gee.

“Bloemwater het besluit die waterbeperkings sal nog van krag bly totdat die munisipaliteit gedeeltelike betalings volgens die voorgestelde betalingsplan gemaak het.”

Die volgende voorwaardes en maatreëls is gedurende hierdie tydperk van krag: Aanlegte, reservoirs en pypleidings sal op bedryfsvlakke onderhou word, klante wat direk vanaf Bloemwater van water voorsien word en nie in gebreke bly om hul rekeninge te betaal nie, sal steeds water ontvang en reservoirvolumes sal op optimale vlakke gehandhaaf word om te verseker infrastruktuur word nie beskadig nie.

“Bloemwater sal belanghebbendes op hoogte hou van die verwikkelinge.”

Die DA het intussen Maandag strafregtelike klagte teen die metro ingedien nadat hul beweer het dat die metro waterbetalings van die inwoners “steel”.

Die betrokke DA-raadslede kon egter nog nie bereik word om kommentaar te lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Iewers in 2017, toe die droogte in die Wes-Kaap, veral in Kaapstad, baie erg was, het ‘n ANC raadslid vanaf iewers in die binneland gesê dat die Here die Wes-Kaap met droogte straf omdat meeste kiesers daar DA stem. So nou wonder ek maar net: Bloemfontein is 90% ANC wêreld. So s ANC stem dan nie sonde is nie (blykbaar is korrupsie en swak munisipale dienslewering binne die wil van God), WAAROM straf die Here dan vir Bloemfontein?

JM

Ek mag verkeerd wees, maar sover my kennis strek, is dit teen die wet om die water af te sny. Krag kan wel afgesny word, maar mense moet water hê.

AndréS

Sleep die stadsbestuurder en stadsklerk hof toe en lê beslag op al hul private bates

Nie Verbaas

Wonder iemand nog oor intilligensie vlakke en bevoegdheid van ANC?

Maggies

Dit is ‘n skreiende skande. Dit is ontneming van die mense se basiese reg om hul water te ontneem. Wat van die vele mense in daardie areas wat getrou hul water betaal?