Waterbeperkings ingestel terwyl Gauteng kook

Die waterbeperkings word ingestel in ʼn poging om reservoir-vlakke weer tot op 60% te laat herstel. (Foto: Maroela Media)

Terwyl dit in dele van Gauteng so warm is dat die kraaie gaap, het waterverbruik in die provinsie só beduidend toegeneem dat Rand Water nou fase 2-waterbeperkings ingestel het.

Die Tshwane-metroraad sê volgens die maatskappy het waterverbruik die afgelope twee weke gelei tot ʼn algehele daling in reservoir-opgaarkapasiteit  – van 52% tot 38%.

Dit het gelei tot die inwerkingstelling van beperkings op verskeie hoëverbruikklante binne afsonderlike munisipaliteite om die huidige hoë watergebruik te verminder.

Die waterbeperkings word ingestel in ʼn poging om die vlakke weer tot op 60% te laat herstel.

Ingevolge fase 2-waterbeperkings – wat dadelik ingestel is – mag tuine in die Tshwane-metro nie met ʼn tuinslang of besproeiingstelsel natgelei word nie, tuinslange mag nie gebruik word om opritte of stoepe skoon te maak nie, voertuie mag nie met die gebruik van ʼn tuinslang gewas word nie en swembaddens mag ook nie opgevul word nie.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê saam met die fase 2-waterbeperkings tree ʼn alternatiewe watertarief vir inwoners ook in werking.

“Om watertekorte en gevolglike onderbrekings te voorkom, doen die Stad Tshwane ʼn beroep op alle inwoners om te help deur hul waterverbruik te verminder en voort te gaan om water spaarsaam te gebruik,” sê hy.

Die Johannesburgse metroraad sê hy ondervind reeds uiters lae watervlakke by verskeie van sy reservoirs en watertorings. Dié metro het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om dringend hul waterverbruik te verminder om ʼn stelsel wat reeds onder druk is, bestendig te help hou. Inwoners word gevra om water net vir menslike en huishoudelike behoeftes te gebruik.

In hierdie stadium word veral die Kommando-, Soweto- en Sentraalstelsel dopgehou.

By Kommando is al drie stelsels – Crosby, Brixton en Hursthill – kritiek laag of leeg. In die Soweto-stelsel is die Eagle Nest-, Glenvista- en Naturena-reservoir op ʼn kritieke lae vlak. In die Sentraalstelsel is die Crown Gardens- en Alan Manor-reservoir se vlakke kritiek laag en pompe wat die Crown Gardens-toring bedien, is geïsoleer weens die lae reservoirvlak.

Inwoners in hoërliggende gebiede kan in hierdie stadium lae waterdruk ondervind of selfs geen water hê nie, lui ʼn verklaring van Johannesburg Water.

Die druk op die waternetwerk het reeds ʼn uitwerking op die Helen Joseph- en Rahima Moosa- Moeder- en Kind-hospitaal. Albei hospitale ondervind uiters lae druk.

Die hospitale het hul eie boorgate, maar dit is nie voldoende om aan die vraag na water by elke fasiliteit te voldoen nie, sê Motalatale Modiba, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid.

Mobiele tenks word tans gebruik om watervoorraad aan te vul en twee torings is geïsoleer om water aan die hospitale te bly voorsien.

“Selfs met hierdie maatreëls duur die uitdagings met waterverskaffing voort en het dit ʼn negatiewe uitwerking op die naatlose lewering van gesondheidsorgdienste. Dienste by die twee hospitale word egter steeds gelewer,” sê Modiba.

Die situasie plaas groot druk op gesondheidswerkers wat die beste onder die omstandighede probeer doen. Die departement het ook ʼn pleidooi op inwoners gerig om water spaarsaam terwyl die situasie voortduur.

Maroela Media het vroeër berig die huidige hittegolf wat oor dele van die land ondervind word en na verwagting tot Dinsdag sou duur, is veroorsaak deur ʼn sterk bolug-hoogdrukstelsel wat stadig oor die noordoostelike dele van die land beweeg.

Die weerdiens verwag ook geen reën oor die volgende paar dae nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

koos ·

Nou hoekom fluister die duiwel in my oor dat die verhoogde tariewe daar is om ‘n ander entiteit, eskom, se skuld te help betaal. Die een Fase 2 help die ander Fase 2, so to speak.

Paul ·

In Pietersburg/Polokwane is die stad se 3 grootste reservours meeste van die tyd op 0%.
Sommige woonbuurte is tot ‘n maand sonder water!

Koos 100 ·

Hier waar ek bly in Tshwane bars daar so baie pype, dat hier permanent ‘n span van Tshwane hier werksaam is. Net vanoggend het ‘n huis oorstroom weens ‘n gebarste pyp. Twee ure lank loop skoon drinkwater weg.

Dandeleen ·

Ons het presies dieselfde probleem in ons area. Ry mens in die oggend werk toe sien jy hoe die paaie verspoel onder al die water, later is die mense daar, soms tot 6 op ‘n slag, maar net 1 werk. water was tot ‘n hele naweek af. Gebeur ten minste drie keer ‘n week en maak hulle ‘n stukkie van die pyp reg, more bars die pyp ‘n meter verder. Pateties verby!!!!

Anel ·

Soweto en hulle maatjies! Niks snaaks nie. Daai lot kan nie krane toe draai nie! As lekkasies reggemaak word, sal daar ook nie probleme wees nie. En as almal betaal, sal dit ook beter gaan. Nou word ons wat betaal WEER gestraf vir al die lot was alles verniet kry!!!!!

Gawie ·

Maar al die damme in die omgewing se vlakke is bokant 90%.
Is daar weer ‘n diensleweringprobleem wat hulle probeer toesmeer?
Hoekom word niks genoem van die damvlakke nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.