Waterbeperkings word in Kaapstad gehef

Kaapstad Foto: www.charmingasiatours.com

Kaapstad Foto: www.charmingasiatours.com

Inwoners van Kaapstad sal óf minder water moet gebruik óf meer moet betaal vir water nadat nuwe waterbeperkings Dinsdag goedgekeur is.

Die stad se burgemeesterskomitee het ʼn voorgestelde vlak 2-waterbeperking goedgekeur nadat damvlakke hierdie tyd van die jaar met 15% gedaal het.

Watertariewe word ook hierdeur geraak en inwoners sal hul verbruik met minstens 10% moet afskaal om voorsiening te maak vir die verhoging.

“Indien ʼn inwoner gewoonlik 24 kl water elke maand gebruik teen ʼn koste van R294,62, en hulle verminder hul verbruik met 10%, sal die rekening uiteindelik ongeveer dieselfde bedrag beloop,” het Priya Reddy, woordvoerder vir die stad, verduidelik. “Indien die vlak 2-tarief deur die stadsraad goedgekeur word, sal 24 kl egter R344,75 kos.”

Die stadsraad sal op 10 Desember die besluit oorweeg.

Die Wes-Kaapse provinsiale kabinet het die parlement Maandag versoek om die provinsie met ʼn rampklassifikasie toe te ken. Die versoek is nog hangende.

“Die besluit volg ná insette deur die provinsiale rampbestuurowerheid wat betref die watersituasie in die provinsie,” het Anton Bredell, LUR vir omgewingsake, gesê. “Ons assessering van die watersituasie het bevind dat meer as een streek of distriksmunisipaliteit tans baie droë toestande beleef.”

ʼn 10% vlak 1-waterbeperking word ten alle tye deur Kaapstad toegepas, en die stad het ook ʼn lys van “streng regulasies” vrygestel, insluitend dat tuine nie tussen 09:00 en 16:00 natgelei mag word nie en alle besproeiing mag slegs op Dinsdag, Donderdae en Saterdae geskied.

“Weens die stad se doeltreffende strategieë, is ons waterverskaffing meer stabiel as enige ander metro,” het raadslid Ernest Sonnenberg gesê. “Gegewe dat Kaapstad egter in ʼn semi-droë gebied geleë is, rus ons egter nie op ons louere nie. Ek doen ʼn beroep op alle inwoners om hulle te vergewis van die verskillende maatreëls en om aktief seker te maak dat daar aan waterbeperkings voldoen word. As ons almal ʼn poging aanwend, sal daar geen risiko wees dat die krane binnekort leeg sal wees nie.”

Die volledige lys van maatreëls is hier beskikbaar.

– TMG Digital/The Times

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Pragtige meegaande foto met die berig.
Net jammer vir daardie groot ronde wit olifant wat alles beduiwel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.