‘Waterkrisis in Bloem afgeweer’

Argieffoto

’n Tekort aan watertoevoer kan moontlik die naweek in die noordelike dele van Bloemfontein verwag word, hoewel ʼn moontlike waterkrisis afgeweer is.

Bloemwater het Vrydag grootmaatwater van die Rustfonteindam na Mockesdam vrygestel. Volgens die Mangaung-metro kan hoogliggende gebiede in die noorde van Bloemfontein moontlik wateronderbrekings ervaar weens die lae riviervlakke en die hittegolf.

Heuwelsig, Pentagon Park, Lilyvale, Bayswater, Dan Pienaar, Noordhoek en dele van die sakesentrum kan moontlik wateronderbrekings ervaar aangesien dit volgens die metro tot 24 uur kan neem vir reservoirs om vol te loop.

Rossouw Botes, DA-raadslid, het gesê water is net na 10:00 Vrydagoggend van die Rustfonteindam na Mockesdam vrygelaat. “Dit gaan egter tyd neem vir die suiweringsproses om voltooi te word en om die water na die reservoirs te pomp.”

Wouter Wessels, VF Plus-LP en onderleier in die Vrystaat, het gesê sy party het Donderdag prokureursbriewe aan die Mangaung-metro en Bloemwater gestuur.

“Die metro is op terme geplaas en die VF Plus het die partye tot Vrydag kans gegee om ’n oplossing vir die waterkrisis te vind en die sluise van die Rustfonteindam oop te maak.”

Volgens Wessels het die metro Vrydagoggend op die prokureursbrief gereageer en die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, het later aan VF Plus-raadslid dr. Elizabeth Snyman-van Deventer bevestig dat die Rustfonteindam se sluise oopgemaak word en water na Mockesdam sal vloei.

“Water behoort teen Sondag die Mockesdam te bereik waarna dit na die Maselspoort-suiweringsaanleg sal vloei. Water moet egter eers binne die netwerk en reservoir vloei en genoegsame water sal teen Dinsdag vir die noorde van Bloemfontein beskikbaar wees.”

Wessels het gesê die VF Plus verwelkom die ooreenkoms wat die metro en Bloemwater kon bereik, maar veroordeel die feit dat dit só lank geneem het en dat daar nou vir die naweek ’n tekort aan watertoevoer in die noordelike dele van Bloemfontein verwag word.

“Die krisis is nou grootliks afgeweer. Die metro faal egter om voldoende te beplan om krisisse vroegtydig af te weer. Inwoners se mees basiese menseregte word gereeld deur die ANC se politiekery en onbevoegdheid geskend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HPV ·

Dankie VF+, Julle praat en paai nie net, julle doen! Doen so voort sodat die kiesers julle meer kan bemagtig.

Gewaarsku ·

Die munisipaliteite, net soos ESKOM en SAL, ploeter voort en elke dag word die skuld meer omdat skuld nie betaal word nie. Belastingbetalers kan al klaar nie meer al die rente op die skuld betaal nie. Die regering is te bang as hulle krag en water afsny weens wanbetaling, dat hulle stemme gaan verloor by die stembus. Dreigemente werk nie in hierdie land nie, net diensleweringbetogings!

aj ·

Die ‘inploffing’ van plaaslike, provinsiale en nasionale regering gaan voortdurende dienste onderbrekings tot gevolg hê.

Raak onafhanklik van regeringsdienste deur jou eie boorgat te sink en pype aan te lê na die bure!

Boer maak ‘n plan!

Kasper ·

Dit is rerig tragies om te sien hoe die eens mooi Rosestad by die dag meer vervalle raak. Vullis sakke word nie opgetel nie, lekkende water pype, en verstopte ruool pype wat oorloop in die strate is aan die orde van die dag. Sypaadjies en parke is oorgroei met vullus, en baie dien nou sommer as rommel hope vir vuilgoed sakke en gemors. Die dieretuin is in die grond in wan-bestuur, en die arme diere ly daaronder. Na naweke lyk die middestad en omgewing soos ‘n oorlog sone van al die gemors en gebreekte drank bottels wat net so gelos word. Maar die anc beheerde stadsraad het altyd geld vir parties en nuwe duur Duitse spog motors, en die kolonel se braai hoender , natuurlik alles op die arme belasting betaler se rekening.
Die VF plus was die enigste party wat die anc nou tromp-op geloop het en gedreig het met regs-aksie, sou hulle nie die gemors met die water opgelos het nie. Ons praat hier van 250 000 mense wat sou sit sonder water, dan praat ons nie eers van die inpak op besighede nie. Net soos HPV hierbo noem, nou is die tyd vir kiesers om hulle steun agter die VF plus in te gooi, want hulle praat nie net soos die amptelikke oposisie nie, nee hulle doen.

George in Bloem. ·

“Afgeweer”? Ek dink eerder dis maar net uitgestel. Al die munisipaliteite in hierdie ANC piesangrepubliek is ank reeds tegnies bankrot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.