Waterkrisis in Vrystaat ‘ANC se skuld’

Die VF Plus én DA pak die skuld vir die voortslepende waterkrisis in die Vrystaat op die ANC. (Foto: DA)

Politieke partye in die Vrystaat pak die skuld vir die voortslepende waterkrisis in die Vrystaat vierkantig op die ANC-regering.

Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het pas die hulp van die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers ingeroep om die beroerde watersituasie te help beredder.

Armand Cloete, VF Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), het gesê die party verwelkom enige versoek om hulp in die droogtegeteisterde Vrystaat, maar sê waterverlies, veral weens swak instandhouding en herstelwerk aan lekkasies, is oënskynlik een van die grootste redes vir die watertekort.

Cloete het gesê volgens die vorige minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti, het die Mangaung-metro-munisipaliteit in die 2017-’18-boekjaar meer as 13 miljard liter water weens vermybare waterverlies verloor. Anders bereken, verloor die munisipaliteit 36 miljoen liter water per dag.

“Munisipaliteite onder ANC-beheer blyk die grootste vermorser van water te wees. Indien Ntombela en ANC-munisipaliteite nie dringend aandag skenk aan swak instandhouding en ʼn gebrek aan kundige amptenare in munisipaliteite nie, sal Dag Zero ʼn werklikheid vir die Vrystaat word,” het Cloete gewaarsku.

Die VF Plus het reeds in ʼn parlementêre vraag in die NRP die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, gevra hoeveel water in die Vrystaat weens lekkasies verlore gaan. Die party sal ook praktiese maatreëls in die Vrystaatse wetgewer voorstel in ʼn poging om die waterverlies dringend te beperk.

Cloete het gesê alle vlakke van regering bly verantwoordelik vir die beskerming van die land se waterbronne. “Die Vrystaat mag nie, selfs in normale reënseisoene, water weens lekkasies en onwettige aansluitings verloor nie. Die Vrystaat kan nie meer die ANC se krisisbestuur bekostig nie.”

Mariette Pittaway, die DA se hoofsweep in die Vrystaatse wetgewer, het ook gesê die krisis in veral die Mafube- plaaslike munisipaliteit is die gevolg van die ANC-regering se “finansiële en politieke bankrotskap”. Sy het gesê swak beplanning deur die departement van water en sanitasie, asook die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, het ook tot die krisis bygedra.

“Die munisipaliteit is drie maande gelede ingelig dat water uit die Katsedam gaan opraak, maar geen gebeurlikheidsplan is opgestel om die waterkrisis te voorkom nie,” het Pittaway gesê.

Volgens haar het die Wilgerivier net water vir nog 14 dae voordat Dag Zero bereik word. Van beloftes dat die Sol Plaatjie-dam geopen gaan word om die nood te verlig, het ook dadels van gekom.

Sy het gesê die feit dat tot 48% van gesuiwerde water in die munisipaliteit weens swak infrastruktuurbestuur verlore gaan, is uiters kommerwekkend. “Dit is nie net ʼn mors van ʼn skaars hulpbron nie, maar ook van chemikalieë en elektrisiteit.”

Die DA het vantevore al gevra dat geld opsy gesit word vir opgraderingswerk aan die verouderende waternetwerk om verliese te voorkom. “Ten spyte van dié versoeke, het die munisipaliteit versuim om geld te belê in die opgradering en onderhoud van die waternetwerk, wat nou vervalle is,” het Pittaway gesê.

Die DA het verlede maand ook gevra dat alternatiewe moontlikhede, soos die sink van boorgate, die herstel van die Wilgerivierdamwal en die opruim en verdieping van opvangsgebiede, gedoen word om kapasiteit te verbeter.

“Terwyl die premier in weelderige vrede en gemak in haar huis in Bloemfontein woon, sit die inwoners van die dorp waar sy grootgeword het, sonder water. Ons het min hoop dat die premier gaan verseker dat [voormalige premier Ace] Magashule se nalatenskap van patronaatskap gaan eindig.”

Die DA het die kwessie nou ook in die parlement geopper.

Pittaway het gesê hulle doen ʼn beroep op die betrokke departemente om die Mafube- plaaslike munisipaliteit te help om te verseker dat volhoubare oplossings as ʼn saak van dringendheid in werking gestel word.

Sy het gesê Ntombela moet, indien nodig, moeilike besluite neem om vooruitgang in die provinsie te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Maritz

Al wat hulle in bele is salarisse en bonusse

Lorette

Sol Plaatje munisipaliteit in Kimberley sit met presies dieselfde gemors. Ons het water vir halfdag (dié wat gelukkig is) Infrastruktuur onderhou hulself blykbaar, want SP doen dit nie. Water word elke dag om 14:00 afgeskakel en soggens 4 uur aangeskakel. Ongelukkig is dit opdraend na sekere woonbuurte en is daar mense wat nie van die water gebruik kan maak nie. Wanneer dit aangaan, moet hulle alreeds by werk wees en wanneer hulle tuis kom, is die water alweer af! Dit is nag, aangesien ons ook vir lug in pype betaal. Waar gesien met al die waterbeperkings kan mens se waterrekening… Lees meer »

Karlahari

In Ladybrand verloor ons tot 50% gesuiwerde water per dag.
Rou riool loop in die dorps dam in. Die water suiwerings werke werk half kapaiteit. Die rivier is leeg. Die dam het minder as 3 maande se water.
Tipies ANC. Geen plan. Geen water beperkings. Geen idee nie.
Briewe na SAMRK help nie. Want een dronk geveg is belangriker as huise sonder water en riool in drink water.

HPV

Geen water in Bankrot Mangaung, Fichardtpark, vannaand. Siek en sat vir die ANC, net so siek en sat vir die nuttelose gepraat van die DA. Hou asseblief op praat en begin iets sigbaars doen! Hierdie stad is in bankrotskap in bestuur met die DA teenwoordig. Ons is moeg om daagliks te hoor hoe nutteloos is die ANC, ons weet en ondervind dit. Begin doen, al is dit net met regsaksie.

Kerneels

En Saterdag was ons almal so positief. Wat het nou verkeerd geloop?