Waterkrisis: Mangaung-metro moet nou R120 miljoen opdok

Argieffoto: Wikimedia

Die Mangaung-metro het met sy waterverskaffer, Bloemwater, ooreengekom dat hy teen 10 Desember ’n totaal van R120 miljoen van sy waterskuld sal betaal.

Dit vorm deel van die skikkingsooreenkoms wat tussen die Mangaung-metro en Bloemwater buite die hof tydens ’n vergadering bereik is. Die vergadering is gelei deur die waarnemende burgemeester, Lebohang Masoetsa.

Nadat watertoevoer Vrydag tot 30% vir sekere gebiede beperk is weens die metro se skuld van meer as R1 miljard, het die metro beoog om ’n dringende interdik in die hooggeregshof in Bloemfontein te kry om Bloemwater te dwing om die toevoer te herstel.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Manguang-metro, het bevestig dat die waterlewering Dinsdagaand ten volle herstel is nadat die partye die ooreenkoms bereik het.

Talle inwoners het Woensdagoggend hul verligting uitgespreek toe hul water na vyf dae weer “spoeg-spoeg” teruggekom het.

Kido Thoabala, woordvoerder van Bloemwater, sê volgens die ooreenkoms wat bereik is, sal die eerste betaling van R35 miljoen teen Vrydag al gemaak word. Die oorblywende R85 miljoen moet dan teen volgende Donderdag (10 Desember) betaal word. Daarna moet die metro die maandelikse waterrekening aan Bloemwater betaal.

“Bloemwater wil graag op rekord plaas dat die herstel van die water ’n tydelike maatreël is onderworpe aan die metro se nakoming van die ooreenkoms. Indien die metro versuim om die spesifieke bedrae binne die genoemde tydraamwerke te betaal, sal die waterlewering weer beperk word,” sê Thoabala.

“Bloemwater bevind hom in ’n finansiële krisistyd en die entiteit het nie die vermoë om sy maandelikse finansiële verpligtinge na te kom nie.”

Volgens Thoabala het die druk op Bloemwater se likiditeit vererger weens die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie se besluit om nie die watertariewe wat aan waterrade betaalbaar is te verhoog nie.

“Om kop bo water te hou in hierdie onhoudbare situasie oorweeg Bloemwater dit om streng maatreëls te tref soos die aflegging van personeel, geen salarisverhogings nie, geen betaling van werknemers se bonusse nie en die plaas van ʼn moratorium op die aanstel van nuwe personeellede.

“In teenstelling hiermee het die Mangaung-metro watertarief- en salarisverhogings, bonusse vir personeellede aangekondig en nuwe poste geadverteer. Dit terwyl hulle nie hul waterskuld kan betaal nie.”

Thoabala sê Bloemwater is tans in so finansiële krisis dat dit sukkel om sy daaglikse bedrywighede uit te voer weens kontantvloeiprobleme.

Die DA het intussen Maandag strafregtelike klagte teen die metro by die Parkweg-polisiestasie ingedien en voer aan die metro steel waterbetalings deur inwoners. Tjaart van der Walt, DA-raadslid, sê hulle wag nou dat ’n ondersoekbeampte aan die saak toegewys word voordat die kwessie verder geneem kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

Die Metro bereik ELKE KEER ‘n skikkingsooreenkoms met Bloemwater en kom dit dan nie na nie. Sal graag wil sien wat hierdie keer gebeur.
Ek sal werklik eerder direk aan Bloemwater my betaling wil maak!

lodewyk ·

En so val SA stuk vir stuk uitmekaar – Al die bedrog begin nou n erenstige effek te wys en wat hartseer is ,is dat die getroue verbruikers wat betaal nou daarvoor moet boet -cANCer het na 25 jaar die land tot teen die grond regeer!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.