‘Watermassas nog onveilig weens reën’ – polisie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hans Braxmeier/Pixabay)

Groot watermassas in dele van die land is skynbaar steeds nie veilig genoeg vir mense om te gebruik nie weens die groot hoeveelheid reën wat steeds uitsak.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Donderdag nog waarskuwings vir erge reën vir dele van Limpopo, Mpumalanga en veral die Oos-Kaap uitgereik.

Volgens die weerdiens word ʼn tropiese lugmassa en vog oor die oostelike dele van die land verwag “wat sal lei tot reënval in gebiede wat onlangs onder swaar reën en oorstromings deurgeloop het”.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir reën is in dele van Limpopo, veral oor die Waterberge en die Mopani-gebied, uitgereik, asook vir die Gert Sibande- en Ehlazeni-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga.

Dié weerstoestande sal na verwagting tot laat Vrydagaand voortduur.

ʼn Geel vlak 4-waarskuwing vir ontwrigtende reën is ook vir ʼn klein deel van die Oos-Kaapse kus uitgereik.

Volgens die weerdiens sal die reën vanaf Donderdag tot Saterdag veral erg wees in dele soos Port St. Johns al langs die kus tot net voor Oos-Londen.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het intussen mense gewaarsku dat watermassas soos riviere en damme steeds nie veilig is om in te swem nie.

Die weerdiens het dit beaam en sê die grond is versadig ná die swaar reënval en dat opvangsgebiede vol is en oorloop.

“Met verdere reënval wat verwag word, is verdere oorstromings ook moontlik.”

Die waarskuwings kom nadat ʼn tiener vandeesweek in ʼn dam in Mpumalanga verdrink het. Reddingsduikers verbonde aan die SAPD soek steeds na ander mense wat vermoedelik in dieselfde dam verdrink het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Woensdag om 18:00 na die Mgobode-woongebied ontbied nadat gemeenskapslede die lewelose liggaam van ʼn 16-jarige seun uit ʼn dam gehaal het.

“Volgens die gemeenskap het die seun en sy vriende in die dam gaan swem toe sy vriende besef het dat hy nie uit die water saam met hulle gekom het nie,” sê hy.

“Die vriende het dit aan volwassenes in die gebied gerapporteer waarna hulle daarin kon slaag om sy liggaam uit die water te haal.”

Van die oorledene se vriende word steeds vermis nadat hulle ook in die dam gaan swem het.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om groot watermassas te vermy, aangesien nog reën vir die gebied voorspel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.