Waternood bedreig Wes-Kaap ook die boere

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Die versengende droogte in die Wes-Kaap wat na berig word tot gevolg het dat Kaapstad nog net 110 dae se water oor het, knyp nie net die stad nie. Ook die landbou trek noustrop, met die besproeiingsboere langs die Bergrivier wat nou moet meet en pas om skade te voorkom.

Beurtwater is nou vir dié besproeiingsboere, wat meestal met uitvoervrugte boer, ingestel. Dit beteken dat die Bergrivierdam by Franschhoek sy sluise vir etlike dae elke week heeltemal toemaak.

Dié dam is volgens die jongste lys van die stand van damme in Suid-Afrika 45,5% vol. Die krisis is egter dat die Theewaterkloofdam naby Villiersdorp, waarmee dit met gravitasietonnels verbind is, nou net 31,4% water vol is. Die Bergvirierdam dien ook as waterreservoir vir Kaapstad.

Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder van Agri Wes-Kaap, sê die maatreël wat nou in die Bergrivier ingestel is, is ʼn poging om binne hierdie krisis besparing te bewerkstellig. Produsente het deur die seisoen water nodig vir die kwaliteit van uitvoervrugte en kon nie vroeër begin spaar het nie. Wingerde en boorde wat klaar gedra het, kry nou net genoeg water om dit aan die lewe te hou.

Sommige boere verbou egter ook wintervrugte soos lemmetjies. Daar word nou na die sink van boorgate gekyk, maar die waglys is weens die droogte baie lank.

Volgens die jongste syfer wissel damvlakke in die Wes-Kaap van heeltemal vol, soos die klein Ernest Robertsondam buite Grootbrakrivier, tot heeltemal leeg, soos die Prinsrivierdam naby Anysberg

Die vlakke van die bekendste damme wat Kaapstad en ander dorpe in die omgewing van water voorsien, is egter kommerwekkend. Die Laer Steenbrasdam was teen 13 Februarie 42,3% vol, die Hoër Steenbrasdam 58,1 en die Wemmershoek 36,7%. Die Voëlvleidam se vlak staan ook op 37,6%. Al die damme is leër as ʼn week gelede, sommiges met soveel as 2%.

Sowat 10% van die damme se inhoud kan weens slik nie werklik bygereken word nie.

Intussen word berig dat Kaapstad nie sy veronderstelde beperkings haal nie. Indien dit wel gehaal word, sal die water ʼn rukkie langer as die geskatte 110 dae kan hou.

  • Die grootste ontsoutingsaanleg ter wêreld, die Hadera-aanleg in Israel, lewer nadat dit in 2010 vergroot is jaarliks sowat 127 miljoen kubieke meter hoë gehalte drinkwater. Kaapstad se waterverbruik, nadat besparings in werking getree het, is 845 miljoen liter per dag. ’n Hadera-tipe aanleg by Kaapstad sou dus in meer as ʼn derde van die watervoorraad kon voorsien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Inwoner ·

Ek le die probleem voor die stadsrade en munusipaliteite se deure omdat daar nie behoorlike wetstoepassing is nie. Stel dan reeds al verlaagde waterdruk in tydens die nagte wanneer die mense so lekker tuin natspuit sodat niemand dit sien nie.

katryn ·

help gou: 127miljoen kubieke meter water – dit is 172000miljoen liter water. Iewers ‘n foutjie?

katryn ·

ek bedoel 127000miljoen liter (copy en paste sou help, dan hoef en nie heeltyd te gaan soek nie regte getalle nie)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.