Waternood: Dalk nog rampgebiede in Wes-Kaap verklaar

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum het ʼn rampbestuurplan aan die Wes-Kaapse kabinet voorgelê om die versengende droogte in die provinsie en gepaardgaande waternood te hanteer.

Anton Bredell, provinsiale minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê damvlakke het nou sulke kommerwekkende lae vlakke bereik, dat die Eden- en Overberg-distrikte nog net genoeg water vir die volgende vier tot ses maande oor het.

“Die rampbestuurplan bevat verskeie verligtingsvoorstelle en ander aanbevelings vir langtermyn watervolhoubaarheid. Dit sluit onder meer in om ondersoek in te stel of dit nodig is om nog rampgebiede in die provinsie te verklaar,” het Bredell gesê.

Vyf munisipaliteite is tans as rampgebiede verklaar. Bredell het gesê in die Sentrale Karoo-distrik is al die dorpe tans gedeeltelik of totaal afhanklik van boorgatwater. Die Weskus-Distriksmunisipaliteit het uiters streng waterbeperkings ingestel, asook die Kaapse wynlande en die Stad Kaapstad. “Sommige van die munisipaliteite is steeds van die Clanwilliam-dam afhanklik, wat tans ongeveer 45% vol is,” het hy gesê.

Volgens Bredell is R60 miljoen reeds bewillig vir voerhulp in die landbousektor. R22 miljoen is ook aan munisipaliteite oorbetaal vir die sink van nuwe boorgate en ander noodsaaklike infrastruktuur-opgradering.

“Die departement van plaaslike regering het ʼn verdere R34 miljoen begroot vir die mediumtermyn uitgaweraamwerk-tydperk om droogtekommer oor die provinsie te hanteer.”

Bredell het gesê ontsouting is steeds een van die laaste opsies wat oorweeg sal word weens koste-implikasies. Hy het gesê volgens een studie sal dit die Stad Kaapstad ongeveer R15 miljard kos om ʼn ontsoutingsaanleg vir 450 megaliter per dag te bou. Daarby sal bedryfskostes ook baie hoog wees.

“ʼn Aanleg vir 150 megaliter per dag sal na raming R386 miljoen per jaar kos om te bedryf. Die uitwerking van so ʼn groot uitgawe op watertariewe kan ingrypend wees. Studies hieroor gaan steeds voort.”

Bredell het gesê die beste moontlikhede om die onmiddellike waterkrisis op te los is tans vermindering van watergebruik, private hergebruik en herwinning van water en waterbewaring. “Hierdie tipe planne en ingrypings is nie onfeilbaar in die lig van die uitdagings wat ons moet hanteer nie, maar kan aansienlik bydra om die wateruitdagings te hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Duineboer ·

Te min, te laat. Tipiese Afrika benadering. Geen langtermyn strategie nie.

Conrad ·

Ja en elke winter loop tonne liters die see in! Daar moes ankal n DAM gebou gewees het om dit op te vang.
Was daar nie so n plan voor 1994 nie, en dit het nooit gebeur nie agv ANC oorname?

lw ·

Christus sal ons gebede verhoor soos wat Hy uitkoms gegee het in die res van SA.

Jaco ·

In Bloemfontein het ons nou al meer reen gehad die afgelope twee maande as wat ons in n hele gesonde reenval seisoen onder normale toestande sou he, dit reen onophoudelik hier na die groot droogde, en ons munisipaliteit reken ons damvlakke het nie veel gelig nie, en sit ons nogsteeds met streng waterbeperkings! Hoe verstaan n mens dit? Is dit dalk wanbestuur van ons waterreserwes???

Wouter ·

Drinkwater al bruin in die Kaap. Kan daar nie asb NOG strenger water beperkings kom nie. Dit is dringend.

zeno ·

Al die mense wat nog glo in GOD, kom ons gaan op knieë en bid vir reën. By HOM is niks onmoontlik nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.