Wateroorwinning vir inwoners van Noordwes

Sakeliga sê die handhawing van grootmaatwatervoorsiening was noodsaaklik om verdere skade aan die
plaaslike ekonomie en gemeenskappe te voorkom. (Foto: Unsplash)

Sedibeng-water het die opdrag, dat waterdienste oor groot dele van Noordwes vanaf Dinsdag weens wanbetaling opgeskort moet word, teruggetrek.

Die organisasie Sakeliga sê dit beteken dat grootmaatwatervoorsiening in dorpe soos Mahikeng en Lichtenburg vir eers weer gehandhaaf moet word.

“Die handhawing van grootmaatwatervoorsiening was noodsaaklik om verdere skade aan die plaaslike ekonomie en gemeenskappe te voorkom,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Sedibeng-water het Sakeliga ook gevra om nie voort te gaan met ʼn dringende hofaansoek oor die kwessie in die Mahikeng-hooggeregshof nie.

Maroela Media het verlede week berig Sedibeng-water het verlede week opdrag aan sy werkers in verskeie munisipaliteite gegee dat watervoorsiening en instandhoudingsdienste reeds Dinsdag gestaak moet word.

Die onderbreking sou die hele Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit, asook die Mahikeng-, Ditsobotla- en Ratlou- plaaslike munisipaliteite raak. Die owerhede bedien benewens Mahikeng en Lichtenburg ook dorpe soos Delareyville, Ottosdal en Zeerust.

Le Roux sê dit is duidelik dat die dreigende hofsaak deurslaggewend was om die watervoorsiening in stand te hou.

“In die lig van die onderneming het Sakeliga sy regspan aanwysings gegee om die saak van die rol te verwyder en regskoste te reserveer. Sou Sedibeng-water strydig met die onderneming optree, kan hy streng optrede deur Sakeliga verwag.”

Le Roux sê Sakeliga gaan egter voort om sy ander, “oplossingsgerigte” hofsaak van stapel te stuur. In dié geval vra Sakeliga die hof om ʼn spesiale meester in twee munisipaliteite in Noordwes aan te stel wat verantwoordelik sal wees om geld vir krag- en waterdienste te ontvang en oor te betaal.

Hofstukke hieroor word tans aan die betrokke partye, onder wie die minister van finansies, sy eweknie by samewerkende regering en tradisionele sake, die premier van Noordwes, asook die Ditsobotla- (Lichtenburg) en Naledi-munisipaliteit (Vryburg) beteken.

Volgens Sakeliga gaan die saak ʼn struktuur en werkswyse aan die hof voorstel waarmee sukkelende munisipaliteite reggeruk en plaaslike ekonomieë gered kan word.

Sakeliga sê ook dit sal die verpligtinge en versuim van die nasionale tesourie en die uitvoerende gesag, om tydig in te gryp, beklemtoon en regspraak nastreef wat “dienstegelde uit die hande van korrupte, wanbestedende of onbevoegde munisipale amptenare kan hou”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Korrupte Amptenare skrik nie omrede due Munisipaliteite
Hof toe geneem word en hulle stap steeds weg met die geld. Amptenare soox Burgermeesters…Dorpsbestuurders…..Finznsiēle Bestuurders moet in Persoonlike Hoedanigheid verantwoording doen vzn die Munisipaliteit se fondse

Willem ·

Ek het nie die vaagste benul waar hierdie plekke is nie – dit klink soos plekke noord van die Limpopo. Geen wonder die dienste daar is niet bestaande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.