Waterpolo-afrigter steeds nie gevonnis

Collan Rex. Foto: Itumuleng English/ANA

Die vonnisverrigtinge van Collan Rex, die voormalige waterpolo-afrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg, kon Woensdag nie voortgaan nie aangesien probasiebeamptes nie by die Palm Ridge-landdroshof opgedaag het nie.

Staatsaanklaer Arveen Persad het aan die hof gesê die beamptes is nie teenwoordig nie en daarom kan die saak nie voortgaan nie. Agt probasiebeamptes se dienste is vir die saak ingeroep, maar Persad het gesê hul sal eers einde November beskikbaar wees om voor die hof te getuig.

Regter Peet Johnson het sy misnoeë hiermee te kenne gegee. “Ek is baie ontsteld hieroor. Ons het lank terug op hierdie datum ooreengekom. Dra asseblief die hof se misnoeë [aan die beamptes] oor.”

Rex is vroeër skuldig bevind op 12 aanklagte van aanranding en 144 aanklagte van seksuele aanranding tussen 2015 en 2016, wat verband hou met seuns tussen 13 en 16 jaar oud.

Johnson het gesê hoewel hy huiwerig is om die vonnisverrigtinge uit te stel, sal die saak dan op 27 November hervat word.

Ná die uitstel het ʼn ontstelde ouer van een van die seuns wat deur Rex misbruik is bekend gemaak sy seun is in ʼn psigiatriese hospitaal opgeneem. “Ons hoop hy gaan binnekort tuis wees. Ek dink hierdie man moet tronk toe gaan en ek is nie seker of die regter besef wat werklik gebeur het nie.”

Hy het verder gesê hy hoop Rex sal ʼn gepaste vonnis opgelê word.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê die departement werk hard om seker te maak die situasie by Parktown Boys’ High het verander.

Volgens Mabona het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê die pad vorentoe moet nou vasgestel word. Hy het bygevoeg die verslag wat saamgestel is, kan nie openbaar gemaak word nie aangesien dit die name van individue en kinders bevat.

Volgens hom lui albei verslae wat oor die skool saamgestel is dat die kultuur van “stilte” stopgesit moet word.

Volgens Mabona is daar verskeie programme geïmplementeer wat verandering by die skool verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Estie ·

Peet Johnson is nie ‘n Regter nie – hy is ‘n Landdros. Regters tree nie op in Landdroshowe nie.

Sê Maar Net ·

Partymaal maak Regters gebruik van Hoflokale by Landdroshowe, so dit IS moontlik dat hy wel ‘n Regter is. Sê maar net….

Colin ·

Peet Johnson is ‘n waarnemende regter. Die Hoë hof sit vir hierdie saak in die Palm Ridge Landroshof.

Probasie ·

Waar in jou lewe het jy daarvan gehoor dat probasiebeamptes nie in ‘n hof opdaag nie (net in SA)? Tyd- en geld vermorsing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.