Waterprobleem in Emfuleni vir eers opgelos

Foto verskaf deur die VF Plus

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit (Vanderbijlpark, Vereeniging) se weeklange waterprobleme is vir eers opgelos, maar met die bestaande verouderde infrastruktuur en wispelturige waterdruk kan inwoners verwag om binnekort weer aan watertekorte blootgestel word.

Inwoners in Vanderbijlpark se krane het op 7 Junie leeggeloop toe ʼn pyp in een van die hoofwater-pypleidings gebars het. Herstelwerk is na ʼn paar dae afgehandel en met die verhoogde waterdruk het ʼn tweede pyp gebars.

Emfuleni se watertoevoer is drie jaar gelede deur Rand Water weens kredietbeheer-maatreëls verlaag. Dit is gedoen omdat Emfuleni nie sy waterrekening kon betaal nie.

“Die waterkrisis is in April vanjaar op die spits gedryf nadat die burgerregte-organisasie AfriForum ʼn skikking buite die hof bereik het en Rand Water gedwing is om die watertoevoer te herstel. ‘n Hof het dié ooreenkoms bekragtig,” sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.

“Die VF Plus het deur die jare druk op die munisipaliteit geplaas om verouderde infrastruktuur te vervang en behoorlike onderhoud aan die pypleidings te doen. Die VF Plus het inwoners tydens die wateronderbreking met WhatsApp-groepe van inligting voorsien oor waar watertrokke en boorgatwater beskikbaar is.”

Senekal sê Emfuleni se inwoners gaan al jare gebuk onder groot water- en elektrisiteittekorte en het op 27 Oktober vanjaar die geleentheid om saam met die party op te staan om te verseker dat bekwame verteenwoordigers, wat belastingbetalers se belange op die hart dra, beheer neem oor die munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Kom plaas bietjie druk op die DA beheerde Tshwane ook. Mountain View het elke dag water onderbrekings en daagliks sowat 3 tot 4 pype wat bars/lek. Die raadslid wou nie 2 jaar terug na die waarheid luister nie en my geblok op haar foon. Daar loop daagliks duisende liters water in die strate en dreine af, en die heeltyd word die skuld op die vorige administrasie gepak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.