Waterreserwes gebruik om Gauteng se waternood te verlig

Die Vaaldam.

Die Vaaldam.

Die departement van water en sanitasie het gesê waterreserwes van die Vrystaat se Sterkfonteindam sal Maandag beskikbaar gestel word vir die Vaaldam, wat byna leeg is.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het gesê die departement beplan om die reserwes beskikbaar te stel voordat die Vaaldam tot minder as 25% daal, afhangend van hoe vinnig die vlak daal. Die reserwes sal by die Nuwejaarspruit invloei, wat aansluit by die Wilgerivier aan die buitewyke van Harrismith, wat dan weer in die Vaaldam invloei. Die water word so herlei om vloede te voorkom.

Die Sterkfonteindam word gebruik om waterreserwes te stoor en waterkrisisse te vermy regoor die droogtegeteisterde land. Die Vaaldam was Vrydag 26,3% vol en die Sterkfonteindam 91,5% vol.

Die departement het na aanleiding van die droogte die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes as rampgebiede verklaar.

Ratau het ook bygevoeg die Vaaldam verskaf water aan verskeie munisipaliteite in Gauteng. “Die dam is tans op sy laagste vlak nog, naamlik 25%,” het Ratau gesê. Selfs al het die land reën gehad die afgelope paar dae, is dit steeds nie genoeg om werklik ʼn verskil te maak aan die dalende damvlakke nie.

Owerhede in Johannesburg het gewaarsku vlak drie waterbeperkings sal ingestel word as inwoners en ondernemings water nie spaarsamig begin gebruik nie.

In Johannesburg word vlak twee beperkings reeds die afgelope paar maande toegepas, wat bepaal tuine mag net tussen 18:00 en 6:00 natgelei word, motors mag nie met tuinslange gewas word nie en swembaddens mag nie volgemaak word nie.

Inwoners van Pretoria is Saterdag opnuut versoek om meer water te spaar, aangesien verbruik te hoog is en die reservoirs nie hul vlakke kan handhaaf nie.

Die Ekurhuleni-metro het ook aangekondig dit begin Maandag om waterrantsoenering toe te pas tussen 21:00 en 05:00.

Die metro het gesê waterrantsoenering sal aanvanklik net in die aand toegepas word, maar gewaarsku indien inwoners nie genoeg water spaar nie, dit later ook deur die dag toegepas kan word.

Hierdie stappe volg op die departement van water en sanitasie se opdrag aan munisipaliteite om watergebruik met minstens 15% te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Delia ·

Volgens julle berig mag motors NET met tuinslange gewas word??? Maak asb seker, want hier by ons mag dit NIE gebruik word nie!

Landi Slatter ·

Dagsê Delia,

Dankie vir jou terugvoer! Ons vra groot om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Jaques ·

Ek will ok net graag weet,

Hoe is dit moontlik dat Gauteng al so diep in die verknorsing is met water tekort, maar hulle nog steeds net op die 2de waterbeperkings kerf is, waar ons in die Kaap Metropool nog nie naby daardie gevaarlike 25% mwerk is nie, maar ons al klaar vanaf 01 November op level 3 beperking?

Dalk omdat ons ‘n beter funksionele algemene regering het, een wat omgee meer vir hulle mense as enig iets anders?

Anneke ·

Lichtenburg – Wens iemand met die nodige kennis kon ons ou dorpie se “bekwame” munisipaliteit help met ons water probleem. Ons is reeds 5 dae sonder water, dis ‘n groot kopseer en kos ons baie om heeltyd water aan te koop om net die nodigste klere en skottelgoed en jouself skoon te hou. Help Lichtenburg se mense asb !

Rupert Ashford ·

Wat van gladnie tuin natspuit en gladnie karwas behalwe by wasserye nie. DIe dinge is mos nie noodsaaklik nie.

Esther ·

Kan iemand my asseblief help en se waar kan ek mense rapporteer wat nie hou by die water beperkings hou nie. Hulle het nie ‘n boorgat nie, en tog loop hulle besproeing vir ure.

Ekke ·

Hi. Hulle reageer dan nie eers op ‘n water lek nie. Wat nog te sê van mense aankla??? Ek het al baie mense gesien wat net ‘n paar minute na die reën hulle sypaadjies nat gooi. Regtig????

Vaaldamkyker ·

Dag vir dag, week vir week, maand na maand kyk ek hoe die Riooldam, ag ek bedoel Vuildam, ag tog, ek bedoel Vaaldam se vlak sak.
Nou gaan tot verligting van die rioolinhoud van die Vaaldam, kristalhelder skoon drinkwater invloei wat dan weer gesuiwer moet word.
Ek wonder wat sou die Israelies gemaak het met hierdie lae vlak? Kom ek vertel julle: Daar sou met stootskrapers ens. ingeklim word om die kante van die dam dieper te maak om sodoende die inhoud dieselfde te hou maar die oppervlakte kleiner te maak om verdamping minder te maak. Maar nou-ja, hierdie is nie Israel en daar word net gedink vooruit so lank soos wat die lengte van die neus is.
Natuurlik kos dit ook geld wat daarvoor nie beskikbaar is.
Hopelik sal die Vaaldamverbruikers besef dat die invloei van water nog nie die watertekort oplos. Al wat jubel is die visse wat minder gaan vrek met minder riool in die dam.

John ·

Gauteng is beter as af as baie ander plekke. Vir meer as ‘n jaar kon Bloemfonteiners geen tuinslange of besproeiing gebruik nie. Die tuine is aan flarde. Hul waterrekeninge gaan nou met 45% verhoog word hoewel goeie reen geval het want die vernaamste toevoerdam, die Welbedachtdam, is 95% toegeslik en niks word daaraan gedoen nie. Ander dele in die Vrystaat ly nog veel erger. Waarom word Gauteng voorgetrek en moet die Vrystaters alleen harde bene kou…?

Stefanie vd Merwe ·

Jer 14:22 Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o HERE onse God? En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge

CQ ·

Julle is amal is dikbek omdat hulle so lank vat om vir julle water te gee….. Miskien het hulle so lank gewag, want as hulle die water vroeer beskikbaar gestel het, was dit ook nou op jul grasperke en karre uitgeMORS!! Julle kla en kerm…. Kom kuier bietjie in die gedeeltes waar ons BID vir net bietjie reen.
Ons HET NIE MEER gras om nat te spuit nie. Dis sand. Ons voertuie is seker 5maande gelede laaste keer gewas, want ons gee eerder daardie water vir ons diere!!
HOU OP KLA EN KERM EN BEGIN BID!!!
HOU OP OM SO SELFSUGTIG TE WEES.
EK EK EK
En begin bietjie dink aan die mense wat ALS VERLOOR AGV DROOGTE!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.