Waterskeidingsaak oor godsdiens vandag in hof

kruise_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

ʼn Waterskeidingsaak oor die behoud van godsdiens in openbare skole begin Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof. Die saak spruit voort uit ʼn klein groep aktiviste wat ses skole weens hul Christelike karakter hof toe sleep.

Die Organisasie vir Grondwetlike Onderrig en Demokrasie (Ogod) het die saak aanhangig gemaak teen ses skole wat hulself met die Christelike etos verbind en onderrig vanuit die Christelike perspektief aanbied. Die saak word teengestaan deur die ses skole, bygestaan deur Fedsas en AfriForum.

Solidariteit het aangedui hy gaan  aansoek doen om as vriend van die hof (amicus curiae) toegelaat te word.

Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof by Solidariteit, is dit vir Solidariteit uiters belangrik dat openbare skole die vryheid moet hê om ʼn Christelike karakter te kan kies. “Hierdie geloofsuitgangspunt is grondwetlik moontlik, prakties uitvoerbaar en speel ʼn belangrike rol in die sukses van talle skole in die land,” het Kruger gesê.

Kruger verduidelik dat dit nie vir Solidariteit nodig was om aanvanklik as vriend van die hof in hierdie saak toe te tree nie, omrede die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) op 10 Maart 2016, as vriend van die hof, sterk standpunt ingeneem het vir skole se reg om hulle met ʼn bepaalde geloof te belyn. “Die SAOU het egter vanjaar op 28 Februarie hofstukke ingedien wat lynreg met hul aanvanklike eedsverklaring staan en teen die sterk pro-godsdiensstandpunt van hul lede en ledeskole indruis,” het Kruger verduidelik.

“Die SAOU se ommeswaai het Solidariteit met geen ander keuse gelaat as om tot die saak toe te tree nie,” het Kruger bevestig.

Die SAOU het intussen weer op 21 April van strategie verander deur hom van die saak te onttrek.

“Ongelukkig is daar steeds ʼn leemte in die hofstukke. Duisende onderwysers wat sterk daaroor voel dat skole ʼn spesifieke etos mag handhaaf se stemme word steeds nie gehoor nie. Solidariteit gaan dus voort om as vriend van die hof tot die saak toe tree, anders gaan die unieke stem van daardie roepingsgedrewe onderwysers nie gehoor word nie,” het Kruger gesê.

Lees meer oor die kwessie hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.