Waterstelsel onder erge druk in Jhb

Argieffoto (Foto: VariousPhotography / Pixabay)

Die hittegolf wat die afgelope paar weke in Johannesburg ondervind word tesame met ʼn gebrek aan reën het tot ʼn groot aanvraag na water gelei. Rand Water se reservoirvlakke het skerp gedaal en het ʼn impak op Johannesburg en ander munisipaliteite.

Die vraag is tans groter as die aanbod, het die Johannesburgse stadsraad in ʼn verklaring gesê.

Alhoewel Rand Water pomp en water verskaf, het die verhoogde aanvraag op die stelsel daartoe gelei dat die reservoirs nie hul kapasiteit kan behou nie.

Rand Water het oor die afgelope paar maande daaglikse vergaderings met Johannesburg Water, Pretoria-stadsraad en Ekurhuleni belê om strategieë en oplossings te vind om die aanvraag te bestuur.

Maroela Media het vroeër berig die Pretoria-stadsraad het ook reeds sy inwoners versoek om water spaarsamig te verbruik en het waterbeperkings ingestel.

Johannesburg Water se tegniese spanne is besig met daaglikse ingryping om die situasie te verlig en waterverskaffing te verbeter.

Inwoners van Johannesburg en ondernemings word gemaan om saam te werk en waterverbruik met minstens 10% te verminder. Dit is benewens die voldoening aan die stadsraad se vlak 1-waterbeperkings waarvolgens tuine nie tussen 06:00 en 18:00 natgelei mag word nie. Inwoners mag ook nie plaveisel of opritte met tuinslange afspuit nie. Verdere waterbesparingswenke is om enige lekkende krane te herstel; nie krane te laat drup nie; korter te stort; ʼn glas water te gebruik wanneer jy tandeborsel; om nie meer as 100 mm water in ʼn bad te tap nie; en gryswater te gebruik om tuine of potplante nat te lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronél ·

RUSTENBURG is ook “droog”………….onder andere………….

Mense gaan mekaar moor vir WATER!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.