Watertekort in Gauteng duur voort

Argieffoto

Argieffoto

Waterverbruik in Pretoria en Johannesburg is steeds te hoog terwyl Ekurhuleni dié week met waterrantsoenering sal begin.

Pretoria

Inwoners van Pretoria is Saterdag opnuut versoek om waterbewaringsmaatreëls te versterk aangesien verbruik te hoog is en die reservoirs nie hul vlakke kan handhaaf nie. Inwoners is versoek om hul waterverbruik te verminder en water waar moontlik te herverbruik.

Waterbeperkings geld ook steeds in die Jakarandastad en inwoners word daaraan herinner dat motors nie met ʼn tuinslang gewas mag word nie en tuine slegs tussen 18:00 en 22:00 natgelei mag word, indien nodig.

Die reservoir wat water aan Mabopane voorsien, is tans op ʼn kritieke vlak en beurtwater sal van 20:00 tot 05:00 plaasvind tot die reservoir se watervlak gestabiliseer kan word. Inwoners van verskeie buurte in die ooste van Pretoria sit tans sonder water nadat ʼn waterpyp op die hoek van Devillebois Maréuil en Delmasweg gebars het. Herstelwerk behoort teen 20:00 afgehandel te wees en watertenkers word verskaf.

Johannesburg

Die stad Johannesburg het ook ʼn beroep op sy inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik. Die stad het ook die stand van damvlakke in die Vaalrivierstelsel-gebied bekend gemaak. Die Vaaldam is tans 26,3% vol, Grootdraaidam 66,5% vol, Sterkfonteindam 91,5% vol en Bloemhofdam 11,7% vol.

Van Johannesburg se reservoirs se watervlakke is tans laag weens verbruik wat die aanbod oorskry. Watertenkers word ook verskaf. Inwoners is versoek om nie hul swembaddens te vul nie. Die stad het inwoners ook aangeraai om nie krane te laat drup nie, in min water te bad en badwater te gebruik om hul tuine nat te maak.

Ekurhuleni

Die Ekurhuleni-metro sal intussen die week met waterrantsoenering begin in ʼn poging om water te spaar. “Ons het geen ander keuse as om die drastiese stap te neem nie, aangesien daar met waterbesparingpogings deur inwoners ʼn gemiddeld van slegs 3,5% per week gespaar is, ver van die nodige 15%.”

Die waterrantsoenering sal aanvanklik van 21:00 tot 05:00 ingestel word vanaf Maandag 7 November. “Dit beteken daar sal geen water wees in dié tye nie.” Die waterrantsoeneringskedule verskyn op die metro se webwerf.

Die metro het sedert waterbeperkings in September aangekondig is boetes van R1,7 miljoen gehef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

zoom zoom ·

Ek onthou wat die minister van waterwerke gese het so paar maande gelede. Daar is nie n watet te kort nie en nou is daar

James ·

Gelukkig hier by Marloth park is daar nie ń tekort aan water nie ,die water loop sommer langs die kant van die grondpad af ,hoe geseënd is ons nie.

victor ·

James. Ons was nou die dag deur Marloth Park. Jy bly in die paradys. Geniet dit.

snoefs ·

bou meer gratis huise sonder om voorsiening vir hulle water en kraggebruik te maak. dan moet die BETALERS weer skoon karre en mooi tuine opoffer en net een keer per week bad om te wys hor polities korrek hulle is.

broos ·

almal help water bespaar behalwe Jhb CBD….water strooom alweer af in die straat (Dolly Rathebe str) vir die afgelope 3 dae en NIKS word hieraan gedoen nie :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.