Waterprobleme het die afgelope naweek in Secunda opgeduik nadat die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit nie sy rekening by Randwater vereffen het nie.
Talle inwoners in die gebied het aan Maroela Media gesê dat hulle nie hul daaglikse huishoudelike en persoonlike take kan verrig nie weens die verminderde watertoevoer na dié dorp.
Volgens Mariaan Chamberlain, DA-raadslid, vereis Randwater dat die munisipaliteit nie net die huidige rekening betaal nie, maar ook sy uitstaande skuld.
“Gevolglik sal waterdruk gedurende die aand ten volle herstel word, maar sodra die vraag [na water] toeneem, sal dit net teen 50% beskikbaar wees,” het Chamberlain in ʼn Facebook-plasing gesê.
Aranda Nel-Buitendag, VF Plus-raadslid, beweer die munisipaliteit sê dat die aangepaste Covid-19-inperkingsregulasies daartoe bygedra het dat die munisipaliteit nie dié rekening betaal het nie.
“Dit is duidelik dat die belastingbetalende inwoners weereens die slagoffers van wanadministrasie en onsuksesvolle onderhandelinge tussen die twee instansies is. Hoewel die munisipaliteit onder administrasie geplaas is, kon die ANC tot dusver nie daarin slaag om die nodige fondse in te samel om sy skuld by Randwater te delg nie,” sê Nel-Buitendag
Die munisipaliteit het egter gister op hul Facebook-blad gesê dat watervlakke in die Evander-reservoir laag is, daarom ontvang sekere gebiede nie water nie. “Water word tans in die reservoir in gepomp en geaffekteerde gebiede sal water kry sodra die reservoir vol is.”
In ʼn poging om die saak te beredder, het die VF Plus saam met ander inwoners in die gebied gewerk om water vir huishoudelike gebruik aan inwoners te voorsien.
- Die VF Plus en ander inwoners verskaf water vir huishoudelike gebruik. (Foto: Aranda Nel-Buitendag/Facebook)
- Die VF Plus saam met ander inwoners. (Foto: Aranda Nel-Buitendag/Facebook)
“Met dié dat Secunda as ʼn potensiële Covid-19-brandpunt gelys is, is dit vir die VF Plus belangrik dat die nodige gesondheidsprotokolle die hoogste prioriteit moet geniet. Dit is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit om skoon lopende water aan sy inwoners te voorsien.”
Werner Weber, VF Plus-lid in die provinsiale wetgewer, tree binnekort met Mandla Msibi, LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, in gesprek en sal hom versoek om die probleem onmiddellik te ondersoek en ʼn werkbare oplossing te vind.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Lekker gerieflike verskoning vir alles deesdae.
Om dit te ondersoek gaan hulle 2 jaar en R5m kos en dan net te se dit is apartheid se skuld.
Vir alles is daar `n verskoning. Dis nie net Secunda wat sukkel met water nie, ook ander dorpe in die Govan Mbeki gebied. Hul dienslewering is skandalig, om die minste te sê.
Covid-19 gaan seker ook nog die rede vir plaasmoorde wees
Wat ‘n … verskoning, dink hulle ons is Stupid. Hulle kan net niks reg doen nie. Julle mors net julle tyd, asem en geld om met enige van hulle in gesprek te tree, niks gaan gebeur nie as dit nie self reg gemaak word nie..