Watertoestand in Kaapstad bly kritiek

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Die Stad Kaapstad fokus tans daarop om inwoners en watergebruikers bewus te maak van die behoefte om waterreserwes tydens wintermaande op te bou, veral in die lig van die warm somer wat verwag word. Dit beteken volgehoue vermindering van watergebruik, alhoewel die weer koeler en natter is.

Die stad se damvlakke bly kritiek laer as gewoonlik. Raadslid Eddie Andrews, burgemeesterskomiteelid van die Stad Kaapstad, het gesê dit is nie duidelik wanneer en hoeveel reën die stad nog verder kan verwag nie.

Burgemeesterskomiteelede, waterinspekteurs en wetstoepassers versprei steeds die boodskap aan inwoners om water te bespaar. Andrews het vandeesweek met inwoners van Mitchells Plain vergader om die boodskap oor te dra.

“Alhoewel ons waterbesparingsbewusmakingsveldtog goed ontvang word deur inwoners, is ons besorg oor die getal persone wat nog steeds nie bewus is van die waterbeperkings of hoe om water te bespaar nie.

“Inwoners moet verantwoordelikheid neem en nie slap laat lê tydens die wintermaande nie. Om water te bespaar moet die nuwe norm wees en dit is belangrik dat ons mekaar aanspreeklik hou tydens dié kritieke tyd. Ons sal almal geraak word indien die nodige reserwes nie opgebou word nie, so ek moedig alle inwoners aan om waterambassadeurs te word en enigiemand aan te meld wat nie aan die vlak 4b-waterbeperkings voldoen nie,” het Andrews bygevoeg.

Vlak 4b-beperkings het in werking getree en die watergebruikteiken is aangepas na 500 miljoen liter water per dag.

Inwoners kan die Stad kontak deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected] vir enige navrae of om oortredings aan te meld (bewyse moet verskaf word om die Stad se wetstoepassers by te staan) of stuur ʼn SMS aan 31373.

Inwoners mag nie meer as 87 liter per dag per persoon gebruik nie. Munisipale drinkwater mag slegs gebruik word vir noodsaaklike was, om mee te kook en te drink en mag slegs binnenshuis gebruik word.

Lees meer oor hoe om water te bespaar
Lees meer oor wat vlak 4b-waterbeperkings beteken

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.