Watertoevoer na Bloemfontein herstel

Argieffoto

Inwoners kan ’n sug van verligting slaak nadat Bloemwater die watertoevoer na die stad Dinsdagaand ten volle herstel het. Dit volg nadat die Mangaung-metroraad en Bloemwater gister tot ’n vergelyk oor uitstaande waterskuld gekom het.

Die Mangaung-metro het Dinsdag beoog om in ’n dringende interdik in die hooggeregshof in Bloemfontein te vra dat Bloemwater die toevoer weer herstel, maar die partye het eindelik buite die hof geskik.

Bloemwater het inwoners gisteraand ingelig dat die toevoer herstel sal word.

Talle inwoners het Woensdagoggend hul verligting uitgespreek toe hul water na vyf dae weer “spoeg-spoeg” teruggekom het.

Watertoevoer is sedert Vrydag tot 30% vir sekere gebiede beperk weens die meer as R1 miljard wat die Mangaung-metro glo aan Bloemwater skuld. Sommige woonbuurte het die afgelope vyf dae nie ’n enkele druppel water gehad nie.

Qondile Khedama, woordvoerder van die metroraad, het vroeër gesê die metro was in gesprek met Bloemwater en ander rolspelers om ʼn dringende oplossing vir die kwessie te vind.

Die metro het sy voorgestelde betalingsplan voorgelê en Bloemwater sou ná beraadslaging terugvoer daaroor gee.

Bloemwater het aangevoer hy gaan nie die toevoer ten volle herstel voordat die munisipaliteit gedeeltelike betalings volgens die voorgestelde betalingsplan gedoen het nie.

Die metro se finansiële verslae wys daar is van Augustus verlede jaar tot Oktober vanjaar betalings van meer as R511 miljoen vir water ontvang, terwyl slegs R418 miljoen aan Bloemwater oorbetaal is. Dit wil sê R93 miljoen is die afgelope maande nié aan Bloemwater oorbetaal nie.

Net voor die watertoevoer verminder is, het Bloemwater R20 miljoen ontvang.

Die DA het intussen Maandag strafregtelike klagte teen die metro ingedien en voer aan die metro steel waterbetalings deur inwoners.

Tjaart van der Walt, ʼn DA-raadslid in die Mangaung-metro, sê hoewel hulle dankbaar is dat die watertoevoer weer herstel is, gaan hulle voort met die strafregtelike klag.

“Ons het Maandag die klag by die Parkweg-polisiestasie teen die bestuur van die metro, en onder andere die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, en finansiële hoof, Sabata Mofokeng, ingedien. Ons wag nou dat ’n ondersoekbeampte aan die saak toegewys word voordat ons die kwessie verder neem,” sê Van der Walt.

“Die metro ontvang geld van inwoners vir water, maar betaal nie alles oor aan Bloemwater nie. Dit beteken bloot diefstal in die oë van inwoners wat hul rekeninge maandeliks betaal, net om te hoor van dreigende waterbeperkings weens die munisipaliteit se wanbetaling.”

Van der Walt sê die DA is bewus daarvan dat die waterkrisis die afgelope tien jaar vererger het.

“Indien die probleem nie finaal opgelos word nie, gaan daar gereeld soortgelyke waterprobleme opduik. Die waterrekening vir die volgende maand is reeds weer betaalbaar en ons sidder om te dink wat dan gaan gebeur. Teen die middel van die maand sit ons dalk weer met die volgende waterkrisis.”

Die gemeenskap van Pellissier is saam met inwoners van buurte soos Lourierpark, Uitsig, Universitasrif, Langenhovenpark en Bainsvlei deur die waterbeperkings geraak.

Pellissier loop veral gereeld en baie erg deur onder waterbeperkings.

Inwoners van Pellissier het ’n organisasie van stapel gestuur om netheid en instandhouding van die buurt te verseker weens die probleme wat reeds daaroor in die verlede met die munisipaliteit ontstaan het.

Inwoners het die TrotsPellissier-organisasie van stapel gestuur om self die woonbuurt op te ruim en in stand te hou.

Die organisasie eis ook dringende ingryping weens die waterkrisis.

Nico Gerber, voorsitter van TrotsPellissier, sê hulle gaan regstappe doen.

“Ons optrede gaan daaroor om permanente oplossings vir die waterkrisis te vind. Dit is goed en wel dat die water nou weer aan is, maar dit is net tydelik. Ons wil hierdie probleem eens en vir altyd stuit,” sê Gerber.

Die organisasie beoog om Donderdag hofstukke in te dien.

“Met hierdie regsaksie wil ons verhoed dat die water sommer net weer afgesny word. Ons wil proaktief optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Staan die Sentrale Regering werklik so apaties teen wanbestuur in plaaslike regerings!!Hoekom word die twak net aanvaar?

Suzette ·

Ek kan nie verstaan dat hierdie onbevoegde kaders in Bloemfontein nog nie afgedank is vir wanbestuur nie. Die nuwe beloftes gaan ook nie gestand gedoen word nie. Bloemwater kan nie alewig onderhandel omdat die onbevoegde bestuur van die munisipaliteit nie die waterrekening betaal nie. Wat gaan gebeur as Bloemwater vou as gevolg van al die wanbetaling – gaan die “slimmes” dan weer ‘n interdik kry? Is daar nie ‘n manier dat die geld direk aan Bloemwater betaal kan word nie? Dit sal die onnodige vermorsing van geld deur die kaders verminder.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Waar is die geld wat gebruikers vir die dienste betaal het? In die verkeerde mense se sakke!

Lian ·

Het die stadsraad onlangs enige nuwe voertuie vir ampsdraers aangeskaf ? Is die wonings van ampsdraers onlangs opgeknap ? Hoelyk ampsdraers se onlangse verhogings ? Stem saam met al die kommentare. Elke jaar word ‘n ouditverslag gepubliseer , maar niks word in plek gestel om die aanbevelings uit te voer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.