Watertoevoer na Gautrein-stasie in Sandton binnekort herstel

(Argieffoto)

Die Johannesburgse metroraad en Bombela Concession Company, die Gautrein-operateur, het ʼn skikking bereik dat ʼn aparte watermeter vir die Sandton-stasie geïnstalleer gaan word. Die ooreenkoms is ʼn bevel van die hof gemaak.

Die watertoevoer na dié besige stasie is op 6 September weens agterstallige munisipale skuld van sowat R8 miljoen afgesny. Rapport het vroeër berig die drie hektaar bogrondse eiendom behoort aan Cedar Park 39 (Edms.) Bpk. Die Gautrein besit gedeeltes van die grond ingevolge ʼn serwituut. Cedar Park, wat deel is van die omstrede Regiments-groep, het nog nooit ʼn sent eiendomsbelasting betaal nie, het die berig gelui.

Dit is weens dié skuld dat die Gautrein se water afgesny is. Die Gautrein vereffen wél al sy munisipale skuld, maar het dit vantevore aan Cedar Park oorbetaal en nie direk aan die munisipaliteit nie. Gautrein gaan na die skikking nou sy eie munisipale rekening kry.

Ingevolge die ooreenkoms wat aangegaan is, sal die watertoevoer na die Sandton-stasie dus voortaan glad nie gekoppel wees aan Cedar Park of sy finansiële verpligtinge teenoor die stad nie, het die Gautengse LUR vir vervoer, Jacob Mamabolo, in ʼn verklaring gesê.

Bombela Concession Company gaan die R120 000 betaal wat dit die stad gaan kos om ʼn afsonderlike watermeter te installeer.

Mamabolo het gesê die grond waarop die Gautrein se Sandton-stasie gebou is, is ingevolge wetgewing bekom en die Gautengse provinsiale regering het Johannesburg R160 miljoen vir dié reg betaal. “Die beteken Gautrein is nie en sal ook nooit ʼn huurder wees nie.”

Volgens hom het die Gautrein-bestuursagentskap en Bombela Concession Company herhaaldelik probeer om met stadsamptenare oor die kwessie te vergader, maar sonder sukses.

“Dit is onverantwoordelik en nie in die beste belang van die stad of die provinsie om die gesondheid van 20 000 daaglikse spoorpendelaars op die spel te plaas én die reputasies van twee instellings skade te berokken nie. Ek is ten gunste van staatsdepartement wat mekaar help om skuld van korporatiewe maatskappye in te vorder, maar daar is ʼn regte manier en dan is daar die manier waarop die Stad Johannesburg dit gedoen het,” het Mamabolo gesê.

Tydelike toilette en wasbakke is die afgelope paar weke by die stasie staangemaak om geriewe aan pendelaars te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon Pit ·

Sny die flippen Soweto se krag en water af want hul is die GROOTSTE skuldlas. Nou moet oorsese toeriste die ongemak verduur.

Genade ·

Genade hoe kan dit R120 000 kos om n ander water meter te installeer, hoeveel pype en weke se arbeid wil hulle hier kleim…. Is dit die prys net omdat dit Sandton is? Ek dink dit is weer n geval van ruk die dam onder die eend uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.