Watertoevoer na meeste dele van George herstel

Herstelwerk gedoen aan die gebarste waterpyp in George (Foto: George Municipality, Facebook)

Watertoevoer na die meeste dele van George in die Suid-Kaap is herstel ná ’n hooftoevoerwaterpyp Maandag – ten tyde van swaar vloede – gebars het. Die munisipaliteit sê die nodige watervragtenks sal na dié dele gestuur word.

Volgens die George-munisipaliteit is die Oewerstraat-pypverbinding Woensdagmiddag afgehandel en drinkwater in die meeste gebiede van die dorp herstel. Die munisipaliteit sê hy is bewus van dele in die middedorp, bodorp en Camphersdrift wat steeds wateronderbrekings ervaar.

“Die waterdruk sal oor die volgende paar dae regdeur die stad laag bly, terwyl die waternetwerk bestendig word. Ons waterreservoirs bly onder erge druk weens hoë verbruik en ons versoek lede van die publiek om voort te gaan om water spaarsamig te gebruik vir die volgende paar dae sodat reserwes kan opbou,” het die munisipaliteit in ’n verklaring versoek.

Paaie lê onder water in George (Foto: Verskaf)

Swaar reën het sedert Sondagmiddag uitgesak en teen Maandagoggend tot erge vloede in dié kusdorp gelei. Paaie, huise en selfs motors was onder water.

Teen Dinsdagoggend het die reën skietgegee en daar was omtrent geen teken meer van water wat ’n dag tevore nog vensterbankhoogte gestaan het nie.

Inwoners en instansies in die dorp het Dinsdag begin hande vat om diegene wat deur die ramp geraak is, te help.

Die George-munisipaliteit het Dinsdag met opruimingswerk begin en dit teen Vrydag steeds voortgesit. Terwyl opruimingswerk goed op dreef is, moet inwoners hulself staal teen nóg stormweer wat moontlik kan tref.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het boonop vir Vrydag ’n oranje vlak 8-waarskuwing teen stormsterk wind tussen Tafelberg en Plettenbergbaai uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shakespeare ·

Net in DA land. Met die ANC/EFF sou kommitees gestig word en n jaar later sou dit nog erger gewees het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.