Waterverbruik in Kaapstad skiet die hoogte in

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

Die Stad Kaapstad het inwoners gewaarsku om waterverbruik onmiddellik te verminder as hulle nie  deur ʼn moontlike ramp in die gesig gestaar wil word nie.

Dit volg nadat waterverbruik die afgelope week ver bo die teiken van 500 miljoen liter per dag geskiet het.

Rdl. Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, het gesê die onlangse reën beteken nie dat waterverbruik na normaal kan terugkeer nie.

Die algemene waterverbruik het tot 643 miljoen liter per dag gestyg. Dit is 143 miljoen liter meer as die doelwit van 500 miljoen liter water per dag onder die vlak 4b-waterbeperkings wat onlangs vir ʼn onbepaalde tydperk ingestel is.

Teen Maandag het die Wes-Kaapse damvlakke 27,4% bereik.

“Met die laaste 10% van ʼn dam se water wat grootliks onbruikbaar is, beteken dit die damvlakke is wesenlik op 17,4%, wat baie laag is vir dié tyd van die jaar. Dié tyd verlede jaar het damvlakke op 47,6% gestaan met 37,6% bruikbare water,” het sy gesê.

Die jongste waterverbruikstatistieke is kommerwekkend. “Inwoners dink hulle kan weer soos normaalweg lewe, maar die onlangse reën is nie genoeg nie en ons is steeds in ʼn droogtekrisis.

“Ons is in ʼn ernstige situasie en elke persoon moet minstens 87 liter water ʼn dag spaar, of hulle by die huis, werk of elders is.”

Limberg het gesê die waterbeperkings is deel van hul proaktiewe droogtebestuur-ingrypings, tesame met die grootskaalse drukverminderingprogramme oor die hele Kaapstad om verbruik te verminder. Ander noodmaatreëls word tans ook ingestel.

Lees meer oor hoe om water te bespaar.
Lees meer oor wat vlak 4b-waterbeperkings beteken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Daar is waterverbruik wat nie gemeet kan word nie, wat gaan daarometrent gedoen word?
Dis ook dieselfde mense wat nie betaal vir water nie, hoekom gaan hulle minder gebruik?

Juffie ·

Ek stem heeltemal saam met alles wat jy sê….Ek wil net byvoeg- inwoners is aangemoedig water van dakke en geute op te vang….nêrens sien ek dat “die stad” opvang tenks ge implimenteer het byvoorbeeld by dreineringspype/sypadjies en dies meer….baie water het net “weggeloop” tydens die reënval.
Nog ‘n ander punt – “die Stad” moet alle “events” ( Home expo- fietswedrenne- hardloop en draf en wat nog – karnaval ) staak tot situasie onder beheer is. Het jy al gesien hoe deelneners water mors tydens sulke “events”?. Laat mens dink ne?

Deon ·

Die populasie van Kaapstad het die laaste 10 jaar die hoogte ingeskiet en die feit van die saak is dat die damme wat ons tot ons beskikking het nie meer voldoende is nie, al is hulle vol raak hulle baie vinnig leeg en sal ons dus voortaan altyd ‘n probleem he as alternatiewe bronne vir water nie benut word nie. Genugtig mense ons bly langs die see, hoe kan ons in 2017 nog ‘n probleem he om soutwater op groot skaal te suiwer !

Dirk Breytenbach ·

….en die plaaslike regering het absoluut niks gedoen om langtermyn watersekerheid te vestig nie. Nou word ons gedreig met boetes. Ek beveel aan die stadsrade gaan kyk wie gebruik skielik meer water en vat hulle aan en hou op om die blaam te verskuif. Die meerderheid van mense in die Kaap is redelik en verantwoordelik en doen reeds hulle plig in die verband. My waterverbruik is konstant, was nog altyd laag ek kan nie meer spaar as wat ek reeds doen nie. Mense wat so kerm oor karwassery moet gerus gaan kyk waar karwasseye se water vandaan kom voordat hulle die jaloerse opmerkings maak, In die Paarl vang ‘n karwassery water van lugversorgers by nabygelee geboue op en gebruik geen munisipale water nie. Ek wonder net wat se planne die stadsrade het igv water totaal opdroog? Jy kan nie ‘n moderne stad met waterkarre aan die gang hou nie. Ek sal bly wees as die klaers en dreigers daardie antwoorde kan verskaf. Ons is reeds in ‘n krisis gedompel deur kortsigtigheid en nalatige bestuurspraktyke nou word die blaam verskuif na verbruikers.

Mike Kaapstad ·

EK SIEN NOG DAAGLIKE HOE MOTORS GEWAS WORD,DINK IS TYD OM TE RAPPORTEER……….

Atticus ·

Die berig sê ons moet 87 liter spaar. Dis foutief. Ons mag nie meer as 87 l per dag gebruik per persoon nie. Ons mag baie meer spaar!

M A ·

Ek woon nie in die Kaap nie maar my enigste bron van water het opgedroog vir die laaste 3 jaar. Dus weet ek hoe om met min water klaar te kom. Ek kan egter nie, met perde op my grond, net 87 liter per dag gebruik nie. Ek moes elke 3de dag 800 liter water van die bure af aanry. Glo my, niks water het net een gebruik gehad nie behalwe die diere se drinkwater. Dis hare was, dan lyf, dan vloere en toiletspoel met dieselfde 10 liter water.

vrikie ·

Waterontsouting kan net by die kus mense bevoordeel, wat van die binneland?
Hoe gouer ons in die land ‘n kopskuif maak en na gesuiwerde rioolwater te kyk hoe beter.
Daar is suiweringsprosesse om dit heeltemal drinkbaar te maak, buitendien is alle water
al hergebruik, ons drink die selfde water wat miljoene jare al in sirkulasie is.
Beaufort Wes is ‘n voorbeeld waar gesuiwerde riool water daagliks deur inwoners as ‘n huishoudelik bron benut word.
In Paarl alleen gaan byna 35 megaliters bedags verlore omdat dit nie kan/wil gesuiwer word tot drinkwater standaard

.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.