Waterverslae toon ‘dringende ingryping is nodig’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die uitslae van die departement van water en sanitasie (DWS) se interim blou-, groendruppel en geen water-verslae wat vandag bekendgemaak is beklemtoon die probleme in munisipaliteite wat AfriForum die afgelope paar jaar al kommer oor uitspreek.

AfriForum verwelkom wel dat die DWS besluit het op die interim verslae bekend te maak.

AfriForum stel sedert 2013 jaarliks ’n blou-en-groendruppel-verslag saam nadat die DWS opgehou het om hierdie verslag self te doen. Sedert 2013 versoek AfriForum elke jaar dat die DWS weer hierdie tipe verslae saamstel. Hierdie verslag is die tweede van sy soort wat in die laaste twee jaar deur die DWS bekendgestel word – hierdie keer weens druk wat op die regering geplaas is as gevolg van die toename in choleragevalle in Suid-Afrika en algemene verval van munisipale dienslewering.

Die interim bloudruppelverslag se resultate toon die volgende:

  • 152 van die watersisteme (WSS) is geassesseer en die bevindinge weerspieël ’n oorsig van sisteme wat besit en bestuur word deur 140 munisipaliteite en 26 waterrade en grootmaatwaterverskaffers.  ’n Gemiddelde tegniese terrein assessering (TSA) van 69% is behaal vir 151 sisteme wat geassesseer is. Dit dui daarop dat die infrastruktuur- en prosesgemiddeld volgens die verslag “partially functional with an average performance” is.
  • Uit die 151 WSS, is 128 (85%) in ’n gemiddelde, goeie, en uitstekende toestand, terwyl 23 (15%) in ’n swak en kritieke toestand is. Die watersisteme wat oor die algemeen die beste gevaar het, is in Gauteng, die Wes-Kaap en Oos-Kaap. Die watersisteme wat in ’n kritieke toestand is, is in die Vrystaat, Limpopo, Noord-Kaap en Noordwes.
  • Die VROOM-kosteberaming van hoeveel geld nodig is om hierdie wanfunksionele sisteme te herstel of op te knap, beloop R1,5 miljard waarvan die grootste gedeelte gebruik moet word deur die Vrystaat en KwaZulu-Natal.
  • Drinkwatergehalte-ontledings dui daarop dat 38% en 11% van die sisteme onderskeidelik ’n uitstekende of goeie mikrobiologiese gehalte het, terwyl 51% van die sisteme ’n swak of slegte mikrobiologiese watergehaltestatus het. Chemiese voldoeningsontledings dui daarop dat 16% en 14% van die sisteme onderskeidelik uitstekende en goeie watergehalte handhaaf, terwyl die oorgrote meerderheid (71%) daarin misluk het om chemiese voldoening te bereik. Dertien watersisteme het geen watergehaltedata aangemeld nie, of geen data was opgelaai of beskikbaar ten tyde van die oudit om voldoeningsontledings moontlik te maak nie.

“Hierdie skets ’n uiters kommerwekkende prentjie veral omdat die mikro- en chemiese voldoeningsontledings dui op groot probleme, veral aangesien daar by 13 watersisteme geen waterkwaliteit gemoniteer word nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

“Ons is ook bekommerd daaroor dat die provinsies wat volgens die verslae die swakste vaar ook dié is wat gebukkend gaan onder bedrog en korrupsie op die oomblik,” voeg De Klerk by. “Dit is duidelik dat die land nie op die regte pad is nie en die departement van water en sanitasie en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake sal nou moet begin saamwerk om hierdie probleme op te los.”

Die groendruppelverslag toon die volgende:

  • Al nege provinsies en 334 munisipale rioolafvalwaterbehandelingswerke is in 2022 as in ’n kritieke toestand verklaar en het groendruppeltellings van onder 31% ontvang. Hierdie munisipaliteite is onder regulatoriese waarneming geplaas ingevolge die Waterdienste Wet 108 van 1997.
  • Dienooreenkomstig is 334 nie-voldoeningsbriewe aan die waterdienste-instellings gestuur. Altesaam 168 “Corrective action plans” (CAPs) is ontvang en die DWS het ’n 50% (168 van 334)-reaksie op die regulatoriese versoek. Altesaam 43 waterdiensowerhede het ondersteuning van die DWS versoek en 34 van die 168 CAPs wat ontvang is, is ten tyde van die bekendstelling van die jongste verslag geïmplementeer. Die ander is of in die beplanningsfase of het geen vordering rapporteer nie.

Van die uitdagings wat die DWS identifiseer het wat ’n negatiewe invloed op die verbetering van hierdie rioolafvalwaterbehandelingswerke het, sluit onder meer befondsingsbeperkings; vandalisme en diefstal; gebrek aan samewerking van munisipaliteite; en voortdurende agteruitgang van infrastruktuur in.

“Die feit dat Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, gesê het dat die toestand van rioolafvalwaterbehandelingswerke ’n bron tot kommer is maar dat hy nietemin bemoedig is deur die 2021/22-verslag, behoort elke persoon in die land se nekhare te laat rys. Dit is nie genoeg om te sê dat hy maar hoop dit lyk beter wanneer die finale verslag bekendgestel word nie. Munisipaliteite is reeds in 2022 gewaarsku om hulle spreekwoordelike huise in orde te kry en onmiddellik te begin met instandhouding en opknappingswerk, en die hoeveelheid munisipaliteite wat wel aan die versoek gehoor gegee het, is nie naastenby genoeg om ’n daadwerklike verbetering voort te bring nie,” sê De Klerk.

“Die Koster-saak het ons duidelik gewys dat werklike verandering net kan plaasvind wanneer staatsdepartemente hul trots sluk en hulp van die privaatsektor aanvaar om algehele ineenstorting te verhoed. Die grootste vraag is egter of munisipaliteite wat willens en wetens vir jare die land se waterbronne besoedel deur enige aanspreeklikheid in die gesig gestaar gaan word. Dit is tyd dat die DWS tande wys en diegene wat ons kosbare waterbronne besoedel, krimineel vervolg.”

Die 2022/23-geen water-verslag wat ook vandag bekendgemaak is, bied ’n oorsig van die stand van munisipaliteite se waterverlies gedurende die 2021/22- munisipale finansiële jaar. Slegs 29% van munisipaliteite landswyd kon data aan die DWS bekendmaak. Bykans helfte van die data wat wel voorsien is, toon egter ’n lae vertrouenskoëffisiënt. Dit beteken die munisipaliteit het in die voorafgaande drie jaar geen of slegs ’n enkele datastel aan die DWS voorsien, waarvan die akkuraatheid boonop twyfelagtig is. Die gevolgtrekkings moes dus heelwat op skattings staatmaak.

Op ’n nasionale vlak gaan 46,4% van die beskikbare water aan munisipaliteite verlore as gevolg van lekkasies in die verspreidingsnetwerk. Dit toon op ’n verswakking teenoor vorige jare en dui op ’n kommerwekkende tendens dat waterverliese oor die afgelope tien jaar aanhoudend toeneem. Metropolitaanse munisipaliteite presteer die beste, terwyl kleiner, landelike munisipaliteite die swakste gevaar het. Die Wes-Kaap is die provinsie wat die beste presteer het, terwyl Limpopo en KwaZulu-Natal die grootste waterverliese ervaar.

“AfriForum is steeds bereid om saam met die DWS te werk om van hierdie munisipaliteite te help om die probleme wat hulle op plaaslike vlak het, op te los. Ons sal ons kundiges en spesialiste betrokke kry om te help waar munisipaliteite wesenlik sukkel met hul water- en rioolsisteme sodat dit weer op standaard kan kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Yvonne ·

Die regering slaag in niks maar niks…hoe tragies is ons pragtige land nie

Papsak ·

Nee kyk ons water is pateties en hierdie regering kyk na niks nie dit was n mooi land maar nie meer nie regtig hoop daar kom gou verbeterings op ons water ook asb

kragaap ·

Dra maar weer water aan met emmers uit die river, gaan terug na soos dit was 200jr terug was, watwou pompe, pype en disinfeksie……

Elmarie ·

Riviere is besoedel soos in ERG! Hoe wil mens water aandra uit vrot riviere?!

Shakespeare ·

Geen water geen krag geen werksgeleenthede geen kos = Regering met GEEN verstand.

Raadsman ·

Met die ANC regering word slegs maintenance gedoen wanneer toerusting breekpunt bereik. Daar moet eers mense dood gaan van kolera voor enige werk beplan word.

Amelia ·

Die ministers drink gebottelde water so hoekom dan nou worry oor jan publiek gaan hul nie aan nie laat hul die weater uit krane begin drink en laat malema maar ook ophou om om te dink is net hammanskraal wat probleem het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.