‘Watter brandverslag?’ vra departement

Die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg het in April verlede jaar aan die brand geraak. (Foto: Twitter)

Die Gautengse departement van gesondheid sê hy het nog geen forensiese verslag van die polisie ontvang oor die oorsaak van die brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal nie.

Volgens ʼn berig wat in die Daily Maverick geplaas is, is dié forensiese verslag ʼn jaar gelede reeds afgehandel en word die oorsaak van die brand as brandstigting aangedui. ʼn Verdere ondersoek moes volg, maar dié het skynbaar ʼn stille dood gesterf.

Die brand verlede jaar het grootskaalse skade veroorsaak en daartoe gelei dat pasiënte maande lank van naburige hospitale gebruik moes maak – dikwels tot nadeel van kleiner gesondheidsfasiliteite in die gebied.

“Ná die plasing van ʼn artikel deur die Daily Maverick, waarin beweer word dat die publikasie ʼn polisieforensiese verslag in sy besit het, is die departement oorval met navrae hieroor,” lui ʼn verklaring deur die departement.

“Die departement het ongelukkig nie die sogenaamde verslag gesien nie en as sodanig is die departement nie gemagtig om oor die inhoud kommentaar te lewer nie.”

Daily Maverick het die afgelope Sondag berig dat hy ʼn kopie van ʼn forensiese verslag, wat deur die polisie saamgestel is, bekom het. In die berig word skermskote van die beweerde verslag ingesluit, asook verdere besonderhede oor wat in die verslag vervat is.

ʼn Senior forensiese brandondersoeker het glo die ondersoek gelei en die verslag saamgestel. Hy het na bewering later sy bevindinge in ʼn beëdigde verklaring vervat.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, het Maroela Media aangeraai om by die polisie aan te klop om duidelikheid oor die verslag te kry.

Navraag is aan die Gautengse polisie gestuur, maar Maroela Media wag steeds op terugvoer in verband met die egtheid van só ʼn verslag.

Luidens Daily Maverick het die betrokke ondersoeker “geen eksterne verdagte waarnemings” gemaak nie en talle “toevallige” moontlikhede vir die brand uitgesluit, waaronder natuurlike faktore en beligtings- of elektriese foute.

Hy merk egter op dat daar glo verskeie teenstrydighede in ooggetuies se verloop van gebeure op die dag van die brand is en hy kom eindelik tot die gevolgtrekking dat die ondersoekbeampte in die saak die aangeleentheid verder moet ondersoek.

“Tot tyd en wyl kan brandstigting nie as die oorsaak van die brand uitgesluit word nie,” lui die berig.

Die ondersoeker voeg by dat die brand dalk ʼn gevolg van “kwaadwillige menslike gedrag” is.

Hoewel die verslag glo melding daarvan maak dat die saak verdere ondersoek verg, sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, dat daar klaarblyklik niks hiervan gekom het nie.

“Ek het ʼn maand gelede vrae hieroor in ʼn sitting van die Gautengse wetgewer gevra en Nomantu Nkomo-Ralehoko, waarnemende LUR vir gesondheid, het gesê die polisie het die ondersoeke gedoen, maar die verslag is nog hangende,” sê Bloom.

Nkomo-Ralehoko het Bloom destyds meegedeel dat verslae soos dié aan die premier oorhandig word, dus is sy “nie in die posisie om duidelikheid oor enige vertragings te verskaf nie”.

“Dit is my ervaring dat die premier se kantoor ʼn begraafplaas vir ondersoeke is, aangesien dit nooit vinnig gedoen of openbaar gemaak word nie. Talle verskonings word steeds gegee vir die vertraging in die vrystelling van die vier ondersoeke na die brand by die Bank of Lisbon-gebou in September 2018,” sê hy.

“Ek is bekommerd dat die brand wat in die Charlotte Maxeke-hospitaal se stoorkamer ontstaan het, doelbewus gestig is om korrupsie toe te smeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Natuurlik is dit baie maklik om bewyse te verbrand. Want ALMAL is mos soooo onskuldig!

Nie Verbaas ·

Dit is n wonder dat hulle nie ontken het dat die hospitaal onder die staat se toesig val nie. Moet maar liewer eintlike kommentaar terug hou.

Nico ·

cANCer weet wat aangaan maar wil nie die oorsaak bekend maak nie.

Swerwer ·

En so word nie Narre net al hoe meer in hierdie Sirkus land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.