Watwo, kyk so ʼn (kakkerlak-)ding wat spring!

(Foto: Stad Kaapstad)

As die gedagte aan ʼn kakkerlak nie vir die meeste mense erg genoeg is nie, gaan die idee van ʼn springende weergawe dalk vreesaanjaend klink.

Daar heers egter groot opwinding oor die voorkoms van ʼn springkakkerlak, die enigste in sy soort ter wêreld, in die Steenbras-natuurreservaat naby Kaapstad. Die insek is onlangs langs ʼn droë stroompie in ʼn dig begroeide vleiland opgemerk.

Eddie Andrews, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, sê die ontdekking van die kakkerlak – wat in Engels ʼn leaproach heet – is ʼn interessante verskynsel en een wat boonop uniek is aan die Fynbos-bioom.

“Dit beklemtoon weer eens die wonderlike insekdiversiteit in die fynbos, en die habitat wat fynbos aan ʼn oorvloed natuurlewe bied,” sê Andrews.

“ʼn Springkakkerlak is heeltemal onskadelik. Hulle lyk dalk vreemd, of selfs grillerig vir sommige mense, maar hulle het die baie belangrike taak om plantmateriaal af te breek.”

(Foto: Stad Kaapstad)

Andrews sê die ontdekking van die insek in die reservaat is boonop gepas vir Wêreldnatuurlewedag wat Vrydag wêreldwyd gevier word.

“Ons verwelkom graag dié onverwagse lid van die stad se wildbevolking.”

Die springkakkerlak is familie van die kakkerlak, maar het die bykomende vermoë ontwikkel om te spring.

Die kakkerlak het in 2011 sy debuutsprong gemaak tot op die lys van die wêreld se tien nuwe spesies.

“Ons is geweldig trots om te bevestig dat die springkakkerlak nou in die Steenbras-natuurreservaat woon. Hoewel dit bekend is dat die spesie in die Fynbos-bioom van die Tafelberg Nasionale Park voorkom, het ons hulle nog nie voorheen in die Steenbras-natuurreservaat opgemerk nie.

“Ek is dikwels in verwondering oor die natuur se vermoë om ons te verras met ongelooflike spesies wat nog ontdek moet word.”

Die eerste springkakkerlak is in 2006 by die Silwermyn-natuurreservaat in die Kaapse skiereiland ontdek deur prof. Mike Picker en dr. Jonathan Colville van die Universiteit van Kaapstad.

ʼn Springkakkerlak is tussen 6 mm en 20 mm lank, en spring tussen plante, nes sprinkane.

“Die insek het goeie sig (weens hul oë wat uitstaan) en het ’n tweede gewrig aan die basis van die antennas om dit te help stabiliseer tydens spronge. Hulle het ook hoogs gemodifiseerde ledemate om die springbeweging te vergemaklik.”

Vanjaar word Wêreldnatuurlewedag opgedra aan die mense wat betrokke is by die bewaring van wild.

Een miljoen spesies word tans bedreig. Vyf groepe spesies, waarvan die voortbestaan in die weegskaal is maar nie altyd soveel aandag as ander kwesbare spesies kry nie, sluit in katusse, papegaaie en selfs seewier.

  • 31% van die wêreld se 1 500 kaktusspesies word bedreig.
  • Die voorkoms van seewier neem af weens die gebruik van baggermasjiene en stygende seetemperature.
  • Daar is ongeveer 68 000 kameelperde in die natuur oor.
  • Volgens die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se rooi lys word 116 van die wêreld se 375 papegaaispesies as kwesbaar, bedreig of selfs erger gelys.
  • Na raming word 31% van die wêreld se 430 eikeboomspesies bedreig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Klink asof krieke en kokkerotte lekker maats raak daar……. ha ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.