Wayde gaan nie sy titel verdedig

Wayde van Niekerk (tweede van links) het vyfde in sy halfeindstryd-lopie geëindig. Foto: Jewel Samad/AFP.

Wayde van Niekerk sal nie die kans kry om sy Olimpiese titel te verdedig nie. Die Suid-Afrikaner het ’n teleurstellende vyfde plek in sy halfeindstryd met sy tyd van 45.15 sekondes behaal.

Van Niekerk het in 2016 die verbeelding van die atletiekwêreld aangegryp toe hy Michael Johnson se wêreldrekord na ’n verstommende 43.03 sekondes verbeter het.

Maar vandag het hy nie te waffers weggespring nie en hy het later al hoe meer stoom verloor om ’n sekonde ná Steven Gardiner (eerste in die lopie met ’n tyd van 44.14 sekondes) oor die eindstreep te hardloop.

Kirani James (43.88 sekondes) en Anthony Zambrano (43.93 sekondes) het die vinnigste kwalifiserende tye gehardloop, terwyl Botswana se Isaac Makwala (44.59 sekondes) ook die eindronde gehaal het.

Van Niekerk was vir ’n hele paar jaar op die krukkelys nadat hy sy knie in ’n raakrugbywedstryd beseer het, terwyl hy vroeër vanjaar ook positief vir Covid-19 getoets het. Dan oefen hy ook deesdae saam met Lance Brauman in die VSA.

Tog het die 400 m-atleet gesê dat hy terugflitse van die 2016 Spele gekry het toe hy in Tokio geland het. En ten spyte van al die terugslae het hy homself aan sy heldedade herinner én dat hy die verdedigende Olimpiese kampioen is.

Dit is net ’n jammerte dat hy nou nie nuwe goue herinnering van Tokio sal hê nie.

  • Uitslae van Van Niekerk se lopie:
  1. Steven Gardiner 44.14 sekondes
  2. Michael Norman 44.52 sekondes
  3. Isaac Makwala 44.59 sekondes
  4. Demish Gaye 45.09 sekondes
  5. Wayde van Niekerk 45.14 sekondes
  • Atlete wat na die eindronde deurdring:
  1. Kirani James 43.88 sekondes
  2. Anthony Zambrano 43.93 sekondes
  3. Steven Gardiner 44.14 sekondes
  4. Michael Cherry 44.44 sekondes
  5. Michael Norman 44.52 sekondes
  6. Isaac Makwala 44.59 sekondes
  7. Liemarvin Bonevacia 44.62 sekondes
  8. Christopher Taylor 44.92 sekondes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jean ·

Ek het gehoop hy sal beter doen, maar toe is die Amerikaanse afrigters nie so goed soos die ou tannie in S.A. nie

piet ·

Wel hy is na ‘n elite atletiekgroep wat verskeie olimpiese atlete (onder andere die olimpiese kampioen in die 400 m vroue) insluit. Bietjie dik vir ‘n daalder om te glo dat daai afrigter wat verskeie top olimpiese atlete (wat presteer by die Olimpiese Spele) afrig enigsins swakker as tannie Ans sal wees. Hoeveel top Olimpiese atlete het tannie Ans afgerig in haar 60 jaar van afrigting? Mense dink bietjie voor julle kommentaar lewer.

BARNEY ·

Hy moes maar sy afrigter gehou het. Iemand wat in hom en sy potensiaal belangestel het earner as sy geld.

piet ·

Ek het nog nooit gehoor van ‘n atleet (enige sportsoort) wat nie spoed verloor na ‘n knie-operasie nie. Dis baie jammer van daai besering, gaan waarskynlik nooit weer dieselfde wees nie.

JohanR ·

Ek het my ACL heeltemal afgeskeer en my MCL beskadig. Na sukke trauma is dit baie moelik vir die knieg om weer die selfde te wees.

piet ·

Korrek, sien my vorige kommentaar. Jy verloor spoed, dit self ondervind na my kniebesering en ek het nie eers ‘n operasie gehad nie (ligamente net gerek). So basies enige kniebesering is nag, nooit weer dieselfde nie.

Frank ·

Iemand met sy natuurlike talent moes baie vinniger van enige terugslag herstel het. Meer as ‘n maand gelede ook net-net gewen met ‘n 45,iets. Dis nou ‘n maand later en hy kom steeds nie onder die 45 nie? Dink die fout lê by die nuwe afrigter. Moet by tannie San gebly het. Sy’t hom ge-KEN.
Reuse teleurstelling vir al ons Wayde bewonderaars.

Casper ·

Skielik is tannie Ansie nie meer goed genoeg vir heer Wayde nie want sy is te streng maar onder haar afrigting wen hy die olimpiese spele en is hy die wêreldkampioen.Van here na zero Wayde.

piet ·

Hier is darem ‘n paar nydige opmerkings. Sies, ek skaam my weer vir sommige Afrikaners. Hy het darem nie 25 meter agter die wenner geeindig soos Wenda nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.