Webblad meen die ‘Wit Blits’ was SA se beste

Allan Donald vier ’n paaltjie. Foto: Anna Zieminski/AFP.

’n Internasionale sportwebwerf het die Suid-Afrikaanse krieketlegende Allan Donald as die beste Suid-Afrikaanse bouler nóg bestempel. Volgens Stadium Talk word Donald as die sewende beste bouler  beskou. Ander Suid-Afrikaanse spelers pronk ook op die webwerf se lys van 50 beste boulers van alle tye.

Donald was die spilpunt waarom die Proteas se krieketsukses in die 1990’s gedraai het.

Met sy kenmerkende wit oorlogsverf (in sy jong dae altans) het dit gelyk asof hy na die paaltjies gesweef en nie gehardloop het nie. ’n Blitsige plofbeweging aan die einde van sy aanloop het egter gesorg dat g’n kolwer ooit op sy louere kon rus wanneer Donald geboul het nie; die bal het male sonder tal teen ’n spoed van vinniger as 145 km/h verby hul helms gesuis.

En volgens die Stadium Talk-webblad was die “Wit Blits” Suid-Afrika se beste bouler nóg.

“Allan Donald was Suid-Afrika se eerste superster ná die land se hertoelating tot die internasionale krieketverhoog. Hy was vurig en hy het die beste kolwers van sy era laat bontstaan,” lui ’n plasing op Stadium Talk.

Die webblad het veral sy epiese tweestryd met Mike Atherton op Trent Bridge in 1998 as ’n “vertoonvenster vir snelboulwerk” uitgesonder.

Die Engelsmanne moes destyds net 247 lopies aanteken om die vierde toets teen die Proteas te wen en hulle het goed begin: Atherton en Mark Butcher het sonder enige drama 40 lopies om die eerste paaltjie aangeteken, voordat Shaun Pollock van Butcher ontslae geraak het.

Hansie Cronjé het geweet hy het net een kans om die wedstryd te wen. En hy het die bal vir Donald gegooi.

Wat gevolg het, was een van die mees dramatiese sessies in die geskiedenis van toetskrieket.

Michael Atherton en Allan Donald. Foto: Twitter.

Die Suid-Afrikaanse blits was op sy aggressiewe beste en dit was nie lank nie of die perfekte kort-van-’n-lengte-aflewering het vir Atherton teen sy handskoen geraps. ’n Bloedjong Mark Boucher het vorentoe geduik om die vangskoot te benut.

Die Engelsman het egter roerloos bly staan en – tot Donald se afgryse – het die skeidsregter Steve Dunne ook nie vir Atherton uitgegee nie.

Nodeloos om te sê het die Suid-Afrikaner hom bloedig vererg en hy het Atherton met ’n rits opslagballe gepeper.

Die openingskolwer het egter die storm afgeweer en toegesien dat Engeland die wedstryd met agt paaltjies gewen het.

Atherton het later die einste handskoen – met die rooi kol steeds daarop waar die bal dit getref het – vir Donald as geskenk gegee.

Die Suid-Afrikaner is deesdae ’n suksesvolle afrigter en hy is tans aan die stuur van die Knights-krieketspan in Bloemfontein. Hy was ook al die Proteas en Engeland se boulafrigter.

  • Stadium Talk se toptien boulers:
  1. Muttiah Muralitharan (Sri Lanka)
  2. Glenn McGrath (Australië)
  3. Shane Warne (Australië)
  4. Wasim Akram (Pakistan)
  5. Richard Hadlee (Nieu-Seeland)
  6. Joel Garner (Wes-Indiese Eilande)
  7. Allan Donald (Suid-Afrika)
  8. Curtly Ambrose (Wes-Indiese Eilande)
  9. Dennis Lillee (Australië)
  10. Malcolm Marshall (Wes-Indiese Eilande)
  • Shaun Pollock (16de), Dale Steyn (18de), Makhaya Ntini (33ste), Morné Morkel (36ste) en Vernon Philander (48ste) is die ander boulers op die lys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

O genugtig! WIT Blits? KSA gaan seker ook nou ‘n ondersoek loods na hierdie verwysing.

N ·

Nou gaan hy seker n rassis genoem word omdat hy nie-blankes uit ge-boul het.

Bosvelder ·

Was dit nie vir Steve Dunn en veral Darrel Hair was Donald hoër op en Warne laer af.

piet ·

Van die name op daai lys was Wasim Akram as snelbouler en Warne as draaibouler vir my baie interessant en opwindend om dop te hou. Akram is maklik die talentvolste bouler wat ek al gesien het. Genade, maar daai man kon boul. Donald en Rabada se boulgemiddelde in toetse is beter as Steyn. Steyn moes effe uitgesak het teen die einde van sy loopbaan want sy syfers was die beste op ‘n stadium.

Frank ·

Vra die kolwers en dan sal Steyn se naam baie hoër wees op die lys

kaplyn ·

En wat van Fanie de Villiers? Min boulers kon `n bal swaai soos hy.

Karlahari ·

Pat Symcox was een van my gunsteling boulers.
Praat van intimiderend.
En dan was hy ook gelukkig om geboul te word waar die bal tussen die paaltjies deur is sonder om die balkie te lig!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.