WeBuyCars koop Ticketpro Dome

Ticketpro Dome (Foto: Ticketpro Dome/Twitter)

WeBuyCars het Dinsdag bevestig dat hy die Ticketpro Dome in Northgate, noord van Johannesburg, gekoop het. Dié tweedehandsemotorhandelaar beplan om die struktuur in ʼn voertuigvertoonlokaal te omskep.

Maroela Media het vroeër berig die Ticketpro Dome, Suid-Afrika se grootste veeldoelige binnenshuise arena, het Maandag ná 20 jaar sy deure gesluit.

Van die internasionale kunstenaars wat hier opgetree het is Pink, Lionel Richie, Celine Dion, Michael Bublé, Avril Lavigne, Westlife, Mariah Carey en Katy Perry. Plaaslike kunstenaars sluit in Prime Circle, The Parlotones, Lira en die Soweto Gospel Choir.

Faan van der Walt, uitvoerende hoof van WeBuyCars, het gesê die Ticketpro Dome stel hulle in staat om hul mark in die Johannesburg-omgewing uit te brei.

“Behalwe dat ons ons teenwoordigheid in die noorde van Johannesburg versterk, is ons vol vertroue dat hierdie ʼn positiewe invloed op die ekonomie sal hê,” het Van der Walt gesê.

WeBuyCars het in ʼn verklaring op MyBroadBand gesê die droom om die Dome ʼn permanente motorvertoonlokaal te maak kan nou ná al die jare eindelik ʼn realiteit word.

Die Dome het ruimte vir ongeveer 1 500 voertuie.

WeBuyCars het tans agt takke landwyd met vier in Gauteng. Die jongste tak is verlede maand in Germiston geopen.

WeBuyCars het gesê hy beplan om die Dome te ontwikkel tot een van die wêreld se grootste en indrukwekkendste vertoonlokale vir tweedehandsemotors.

Die amptelike openingsdatum van die nuwe WeBuyCars-tak is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KB ·

Wat We Buy Cars met die koepel wil maak, weet nugter alleen!
Elke Jan Rap en sy maat word deesdae ‘n tweedehandse motorhandelaar, neem persele langs die hoofstrate in ons stede oor, en ontsier ons stede grotendeels. Dit raak ‘n irritasie.

Sobymykoolkop ·

We buy cars is beslis nie elke jan rap en sy maat nie

Anthony ·

Maak maar seker julle koop goeie sekurititeid ook, net-nou net-nou word dit af gebrand

Eclectus ·

@ Stephan – Die Dome was oorspronklik gebou as ‘n beplande veeldoelige motor sentrum wat verskeie vervaardigers en verwante leefstyl items sou huisves, maar die oorspronklike plan het nie na voltooiing gerealiseer nie en dis gevolglik verkoop. Die Dome was nooit ‘n goeie konsert lokaal nie weens ‘n te lae verhoog vir sy grootte en swak akoestiek.

SjN ·

Baie geluk Faan, weet julle sal n sukses daarvan maak, gelukkig word dit nie n wit olifant nie, sterkte met die besigheid.

Aai ·

Pasop WeBuyCars floreer nou dat mense nie hulle voertuie kan bekostig moenie vergeet daar gaan al hoe meer mense wees wat nie kan koop dan sit julle met daai vooraad.Dit is ‘n jammerte dat julle hom nie kon laat oop staan het tot dinge weer beter gaan,soos julle se tweedehandse voertuie staan orals mense het nie meer geld in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.