Wedersydse respek tussen regering en regbank, sê Zuma

Pres. Zuma en hoofregter Mogoeng. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma en hoofregter Mogoeng. Foto: Flickr/GovernmentZA

ʼn Vergadering wat Donderdag tussen die uitvoerende gesag en die land se top-regters gehou is, is ʼn praktiese stap om die demokrasie in Suid-Afrika te versterk, het pres. Jacob Zuma gesê.

Zuma het ná die agt uur lange vergadering aan verslaggewers buite die Uniegebou gesê die vergadering was ʼn eerlike en hoflike uitruil van sienings in ʼn “atmosfeer van wedersydse respek”.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in Junie versoek om met Zuma te vergader om “herhaaldelike en ongegronde” kritiek van die regbank te bespreek. Mogoeng het toe gesê die regbank is by ʼn punt van “introspeksie” en nie midde-in ʼn krisis nie.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa en verskeie ministers het ook die vergadering bygewoon.  Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke en ander top-regters was aan Mogoeng se sy.

“Die twee afvaardigings het hul kommer uitgespreek oor ʼn aantal kwessies insluitend uitsprake in die openbare domein van albei kante wat die integriteit van die regbank en die nasionale uitvoerende gesag kon bevraagteken,” het Zuma gesê. Hy het gesê die vergadering het ooreengekom om versigtig te wees oor watter uitsprake in die openbaar gemaak word en kritiek wat teenoor mekaar uitgespreek word.

“Die vergadering het ingestem dat hofbevele gerespekteer en aan voldoen moet word. Ons herbevestig ons verpligting teenoor die mense van Suid-Afrika en om toegang tot geregtigheid te bevorder. Ons beklemtoon ook ons verantwoordelikheid teenoor die mense van Suid-Afrika om te grondwet te handhaaf,” het hy gesê.

“Die vergadering is die fondasie van toekomstige gesprekke om kwessies te bespreek wat van tyd tot tyd mag ontstaan.”

Die vergadering het gevolg ná die Omar al-Basjir-saga toe die Suid-Afrikaanse regering ʼn hofbevel deur die Internasionale Strafhof verontagsaam het deur toe te laat dat die Soedannese president die land in Junie verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stefaans ·

Nou hoe dan nou? Zuma is die laaste persoon wat kan sê dat hofbevele uitgevoer moet word.
Ek wonder of die regter, wat hom vrygespreek het van vervolging vir ‘n reeks misdade, ‘n loopbaanbeslissing eerder as ‘n regsbeslissing gemaak het. Die hofbevel oor Omar al-Basjir is maar net nog ‘n voorbeeld van minagting van die hof.

anet ·

Zuma is die grootste oortreder wat nie hofbevele respekteer nie. As hy sy mond oopmaak stroom die leuns daaruit. Hy is die grootste Nar wat ek ooit van gehoor het. Die vergadering is die fondasie van toekomstige gesprekke ? Watwou Zuma het nie eers sy eie fondasie van geregtigheid in sy hart nie

Leon ·

die grondwet is die hoogste gesag in ons land, nie die president nie, nie die parlement nie, nie die mense nie en nie enige politieke party of organisasie nie. Die howe en regters is daar om onafhanklik en sonder enige politieke inmenging dit wat die grondwet bepaal te implimenteer. Die regters moet geensins eers met regeringsleiers vergader nie want daardeur maak jy net die deur oop vir inmenging. Die regering moet die hofuitsprake van die land respekteer. Die regering en sy alliansie kan maar skree en aangaan maar dit is waar dit bly. Die ANC het nie die twee-derde meerderheid om die grondwet te verander nie en sal ook nie weer die twee-derde meerderheid kry nie. Ons as landsburgers moet hulle daar hou.

a ·

Dankie Leon, ek stem saam. ek hoop ons kan die ANC onder die duim hou

Ghost ·

Hoekom is hulle so bang vir kritiek. As hulle hul verpligtinge na kom en hulle werk doen sal daar mosnie negatiewe kritiek wees nie. Maar die regering is so korup en probeer als onder die mat invee.

neelsie ·

Selfvoldane lag van Zuma teenoor taamlike senuagtige laggie van regter?
Wat kan ons hieruit aflei?

Moeg vir nuwe Suid-Afrika ·

Hoekom nou vergadering?, hulle is al lankal kop en een mis, Zuma het mos nou klaar in die verlede gewys hy het in elk geval geen respek vir die regstelsel nie, kom neer op n anargie, demokrasie is mos net n woord in die land.

Winston ·

Net sodat hy kan wys “hy doen iets aan die uitlatings” Zuma is die mees ongeloofwaardige verkose president regoor die aarde. Ek glo niks wat hy sê nie. Demokrasie is nie in sy brein nie. Dis net n aangeleerde afrikaanse woord

alex ·

Waarom lag zuma altyd soos ‘n Mal Clown wat so pas ‘n pakkie lekkers gekry het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.