Weduwee aangekeer ná ‘aanval’ op Nigel-plaas

Johan Pretorius. (Foto: Facebook)

Unis Pretorius, ʼn boer van die Delmas-omgewing in Mpumalanga, sê hulle familie hoop die volle waarheid oor sy broer, Johan (44), se dood meer as ʼn jaar gelede is hopelik binnekort bekend. Johan se weduwee, Kobie (49), is die afgelope week in ʼn opspraakwekkende verwikkeling in verband met sy moord in hegtenis geneem.

Johan is in Julie verlede jaar wreed op ʼn plaas in die Nigel-omgewing vermoor. Hy is met ʼn piksteel aangerand en sy liggaam is daarna aan die brand gesteek. Kobie was in daardie stadium tuis en het ongedeerd van die aanval afgekom.

Johan se moord het nie net sy familie nie, maar ook die gemeenskap geruk. Hy was ook welbekend in die suiwel- en voerbedryf.

Die voorval is aanvanklik as ʼn plaasmoord bestempel en mense was woedend, maar ná die voorval was daar al hoe meer vrae oor die werklike motief vir die moord.

Adam Lukas van Staden (21) is ná die moord in hegtenis geneem en is reeds 25 jaar tronkstraf in die Pretoriase hooggeregshof vir sy aandeel aan die moord op Johan opgelê. Van Staden en Kobie Pretorius was oënskynlik in ʼn romantiese verhouding gewikkel.

Nóg ʼn man, Jacques Petzer (23), is ná afloop van die hofsaak ook vir die moord op Johan in hegtenis geneem.

“Dit was baie erg toe die besonderhede [oor die moord] in die hof aan die lig gekom het. Ons het vermoed dat daar iets meer aan die storie is,” het Unis Maandag gesê.

Volgens hom het die familie Kobie die laaste keer by Johan se begrafnis gesien en daarna weer by die hooggeregshof waar sy in die moordverhoor moes getuig. Sy het ná die moord alle bande met Johan se familie verbreek.

Unis sê die familie het alles probeer om deur Kobie kontak met die egpaar se sesjarige aangenome dogter te behou, maar moes noodgedwonge deur kennisse verneem hoe dit met die kind gaan omdat sy geensins met hulle gekommunikeer het nie.

“Dit was vir ons baie belangrik om te weet hoe dit met die dogtertjie gaan,” het hy gesê.

Unis sê 15 maande later word dit steeds nie makliker om Johan se dood te verwerk nie.

“Dit was baie erg vir die familie. Ons het gewroeg met die ding. Daar lê nog ʼn moeilike tyd voor en baie moet nog gebeur voordat ons sal kan sê ons het nou agter die kap van die byl gekom, maar hopelik kom ons uiteindelik by die waarheid. Ons het ons vermoedens,” het hy gesê.

Sers. Neliswe Dwaba, woordvoerder van die Nigel-polisie, het gesê Kobie Pretorius is op die plaas op ʼn aanklag van moord in hegtenis geneem. Sy sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Alta Alleman ·

Onskuldig moes hy sterf en op so ‘n wrede manier. Skokkend !

Niklaas ·

Die vrou/verdagte is oud genoeg om die jongman, wat reeds tronkstraf gekry het, se ma te wees. Hy het seker gesing soos ‘n kanarie toe hy voel hy alleen gaan straf moet uitdien. Ek sou ook.

Maggies ·

Probleem hier is dat dit die mense redes gee om te begin glo dat daar nie regtig soveel plaasmoorde is nie.
Van die ander kant af gesien, gee “plaasmoorde” vir sommige mense ‘n goeie dekmantel vir hul onheilige sondes.

Sêmaarnet ·

Ek stem soooo saam met jou. Net vanoggend hierdie storie vertel. Die moordenaars dink hulle kan wegkom omdat so min mense vir plaasmoorde vervolg word.

Sarel ·

So gebruik of misbruik mense die misdaad situasie on die land

Derek ·

Mense het afgedwaal van die Waarheid, die Woord van God. Die ANC het mos die vryheid van godsdiens ingebring en die gebooie van God vervang met hul eie siek wette!

Anel ·

Ons lewe in ‘n siek samelewing! Die arme dogtertjie. Sy het een keer haar ouers verloor, nou weer. Hoop sy kry nou’ n liefdevolle gesin wat haar ekstra baie liefde en sekutiteit gaan gee.

Casper ·

Wat het verder met Mnr.Petzer gebeur.Te opvallend dat Johan tydens die “plaasaanval” dood is maar sy vrou kom niks oor nie.in Suid Afrika werk plaasaanval nie so nie.Ek hoop die dogteryjie gaan by iemand bly waar sy kan vergeet van die gebeur en net vae herrineringe sal oorhou.Sterkte aan die familie en mag geregtigheid gou geskiet.

Sage ·

Dis presies hierdie tipe dinge wat die onmenslike situasie rakende plaasmoorde se geloofwaardigheid in die drein afgooi. Laat mens wonder hoeveel plaas moorde werklik wraak aanvalle of roof is deur anders kleuriges en hoeveel is net ‘n skuiwergat vir ‘n ander siek agenda. Wat is die boodskap wat uitgestuur word aan die buiteland, waar ons simpatie verwag? Skandelik en swak!!!
Mag die geliefdes wat agter gebly het vrede by God vind. So jammer vir hulle.

Misky ·

Ek het nou die vorige berigte gaan lees oor die moord en dis skokkend om te dink dat die man se vrou wel toe moontlik betrokke was. Sommige lesers het gesê alles klink nie pluis nie asook die Pretorius man van sekuriteit maatskappy. En dan boonop so wreed gedoen en dit deur mede SA’ners. Mag hulle hard gestraf word.

Soez ·

Dink daar was baie leidrade SAP het hul tyd gevat om bewyse en goed mooi deur te kyk. Soos ek in my comment gese het ek vermoed hier kom meer. You die spasie dop

Soez ·

Het ons van die begin af geweet en vermoed. Hier kom meer…hou die spasie dop

Gert Johannes ·

Wat van die Stofberg, Groblersdal moord, klink ook nie pluis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.