Weduwee doen nie aansoek om borgtog

Die landdroshof in Kempton Park. (Foto: Tania Heyns)

Die weduwee van Gregor Travers, die man van Kempton Park wat sowat ’n maand gelede ná ’n huisbrand omgekom het, sal vir nóg ’n maand in aanhouding moet bly.

Caroline Ann Travers (49) het toe nie Donderdag soos verwag aansoek om borgtog in die plaaslike streekshof gedoen nie en die saak teen haar is tot Mei uitgestel.

Travers het verlede week tydens haar vorige hofverskyning aangedui dat sy op borgtog vrygelaat wil word. Sy het egter tot op hede nog nie aansoek om borgtog gedoen nie omdat sy nie ’n alternatiewe adres kan verskaf waar sy kan tuisgaan sou die aansoek slaag nie.

Travers kan weens die brand nie na haar en Gregor se huis in Norkem Park terugkeer nie.

Travers is in die vroeë oggendure van 12 Maart buite dié brandende huis in hegtenis geneem nadat sy volgens haar ’n “klein, beheersde” brand by hul huis gestig het. Sy ontken egter dat sy enige aandeel daarin gehad het dat haar man dié aand ernstige brandwonde opgedoen het – brandwonde waaraan hy dae later in die hospitaal beswyk het.

Travers voer aan Gregor het self in die brandende huis ingehardloop.

Sy het tydens haar vorige hofverskyning aangevoer dat Gregor ’n volslae alkoholis was wat haar fisiek, emosioneel en geestelik mishandel het.

Volgens Travers was Gregor die aand dronk toe sy die brand gestig het.

Die saak is tot 24 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.