Weduwee dood voor moordverhoor

Tony Strydom. (Foto: Zoutpansberger)

Rieta Strydom (65), wat tereggestaan het op die moord op haar man, Tony, drie jaar gelede, is dood voordat sy verhoor kon word.

Tony Strydom is in Julie 2016 doodgeskiet op ʼn kleinhoewe in die Ridgeway-omgewing buite Louis Trichardt, waar die gesin gewoon het.

Daar is destyds bespiegel dat die voorval moontlik ʼn plaasaanval kon wees.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê Rieta is op 18 Mei vanjaar in Standerton in Mpumalanga aan natuurlike oorsake dood.

Verdere inligting oor haar dood is nie bekend nie.

In April vanjaar het die polisie hul ondersoek na die moord op Strydom (45) as “ingewikkeld” bestempel nadat sy weduwee en een seun, Hendrik (25), in die hof op Louis Trichardt verskyn het in verband met sy skietdood amper drie jaar gelede.

Die Zoutpansberger het vandeesweek berig Tony se ander seun, Pieter, het hom vroeër aan die polisie in Standerton oorgegee in verband met sy pa se dood. Hy is sedertdien op borgtog van R1 000 vrygelaat, het die koerant berig.

Ngoepe het gesê die broers verskyn weer op 1 November in die hof.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Natascha ·

Kyk nou net, op borgtog uit vir R1000, dit vir moord, nee wat, verstaan nie ons regstelsel nie. Hy hoort in die tronk nie in die strate.

kolla ·

Waar staan dit dat dié betrokke seun van moord aangekla word?

Nella ·

Dit is vir my uiters ontstellend dat daar deesdae soveel berigte is van kinders wat hulle ouers leed aandoen, vermoor of selfs toelaat dat hulle ouers op straat bly. Ek loop nie met die Bybel onder my arm nie, maar dit se “eer jou Vader en jou Moeder”. Mens het eintlik nie woorde vir sulke siek mense nie.

Mariaan ·

Dalk het pa kinders en ma mishandel hul lewe lank…dan kom mens net op n dag dat jy nie meer kan nie…veral omdat albei broers betrokke is….al wat ek kan dink

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.