Weduwee en haar kêrel van polisiemoord verdink

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

ʼn Groot deurbraak is Vrydag gemaak in die ondersoek na die moord op ao Mogokolodi Cleopas Digama van Apel-polisiestasie in Limpopo.

Nog twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Digama.

“Die hoofverdagte, ʼn 41-jarige vrou wat met die oorledene getroud was, is by haar huis in Nebo in hegtenis geneem deur die Valke,” sê kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Haar medebeskuldigde, vermoedelik haar kêrel, is deur dieselfde span by GaMashashane aangekeer.

“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die vrou en kêrel saam ʼn kind het.”

Digama was op 27 Junie 2021 op pad huis toe van die werk af, toe hy deur swaar gewapende mans by een van die spazawinkels in Apel oorval en vermoor is. Die verdagtes het met sy voertuig weggery. Die voertuig is later uitgebrand gevind in Madibong naby Sekhukhune.

“Die saak is dadelik na die Valke verwys en ʼn groot soektog is van stapel gestuur na die verdagtes. Die eerste twee verdagtes, Mpusheng Titos Malata (31) en Nosky Mabitla (31) is reeds in Junie en Julie 2021 in hegtenis geneem.

Malata en Mabitla se aansoek om borgtog is afgekeur in die Sekhukhune-landdroshof. Hulle moet op 24 Februarie 2022 weer in dieselfde hof verskyn.

Die oorledene se vrou en haar medebeskuldigde sal na verwagting Maandag in die hof verskyn op aanklag van moord. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
lollapot

Wel gedaan aan die ondersoek beamptes!!!!