Weduwee erken sy het brand gestig

Die landdroshof in Kempton Park. (Foto: Tania Heyns)

Die Oos-Randse vrou wat van moord aangekla word nadat haar man uit hul brandende huis in Kempton Park gered moes word, het Dinsdag in die hof erken dat sy dié aand ’n “klein, beheersde” brand in die huis gestig het. Gregor Travers het later aan wonde wat hy in dié brand opgedoen het, beswyk.

Caroline Ann Travers (49) ontken egter dat sy verantwoordelik is vir Gregor se dood en voer aan hy het self die brandende huis ingehardloop.

Caroline het in die plaaslike streekhof aangevoer dat Gregor ’n volslae alkoholis was wat haar fisies, emosioneel en geestelik mishandel het.

Tog het sy nie die brand gestig met die doel om hom om die lewe te bring nie, maar eerder om nat handdoeke droog te maak, beweer sy.

Die egpaar se huis in Norkem Park was in vlamme gehul toe die nooddienste op 12 Maart in die vroeë oggendure na die huis ontbied is.

Volgens Caroline was Gregor die aand dronk toe sy ’n “klein en beheersde brand” in die huis gestig het.

“Die polisie op die toneel kan daarvan getuig dat my man ongedeerd buite die huis gestaan het toe ek in hegtenis geneem is. Ek het toe nie weer die [brandende] huis ingegaan of enigiets met my man te doen gehad nie.” Sy voer aan dat haar man daarna weer die huis ingehardloop en die noodlottige wonde opgedoen het.

Gregor Travers (Foto: Verskaf)

Caroline se weergawe is egter teenstrydig met die inligting wat die polisie kort ná die voorval aan die publiek verskaf het. Volgens die polisie se aanvanklike verklaring het Caroline op die toneel aan ’n vrou erken dat sy die brand gestig het en gesê sy hoop haar man brand dood.

Luidens die verklaring is petrol op die toneel gevind.

Caroline sê dit is onsin. “Dit is nie waar dat ek petrol oor my man uitgegooi het nie. Daar was geen petrol nie. Daar was ook hoegenaamd geen brandversneller nie.”

Die egpaar se honde en voël het in die huisbrand omgekom.

Die weduwee het aanvanklik aangedui dat sy nie om borgtog wil aansoek doen nie, maar Dinsdagmiddag van deuntjie verander.

Die landdros en Caroline se regsverteenwoordiger, Candace Mqoboli, het vlugtig oorweeg of sy vir psigiatriese evaluasie gestuur moet word.

“Nee, nee, nee” het Caroline saggies en kopskuddend vanuit die beskuldigdebank geprewel.

“Ek is by my gesonde verstand,” het sy later hardop aan die landdros gesê.

Die landdros het eindelik beslis dat Caroline blyk by haar volle positiewe te wees en die situasie ten volle begryp. Mqoboli het daarmee saamgestem.

Die borgtogaansoek sal volgende week aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Sluit haar toe en gooi die sleutel weg.

Julia

Vuur om nat handdoeke droog te maak?? Liewe ouers..In elk geval, n deeglike forensiese ondersoek sal laat blyk of daar petrol of brandversneller gebruik is. Ek kan glo dat sy n mishandelde vrou was maar skei tog liewer. Ek self is n mishandelde vrou wat in die proses is om te skei en baie swaar kry op die oomblik. Maar goeie hemel jy stig tog nie n brand dat jou man lewendig verbrand nie! Dis satanies. En die onskuldige diere ag nee man!

AH

Hoekom tyd mors met borgaansoek? Is daar nie genoeg bewyse wat hulle kan nagaan om haar skuldig te bevind en die saak af te handel nie??? Die diere wat sy willens en wetens in die brandende huis agtergelaat het om dood te brand is nog ‘n saak en die twee sake behoort vir enigiemand genoeg te wees om te sien dat dié monster nie in die samelewing hoort nie….