Weduwee: ‘Hy was my alles’

Ao. Steven Britz. Foto: Facebook

Ao. Steven Britz. Foto: Facebook

Ao. Steven Britz het ʼn verrassingswegbreek vir hom en sy vrou se 20ste huweliksherdenking beplan toe hy op teregstellingswyse in die Klapmuts-polisiestasie doodgeskiet is.

Lee-Anne Britz, sy weduwee, sal nou nooit weet waarheen hy beplan het om haar te neem nie. Sy het Donderdag in trane vertel van die hartseer wat sy en haar twee seuns beleef sedert die moord op haar man.

Regter Gayaat Salie-Hlophe het Luvuyo Ndevu (33) Donderdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Britz en nog 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede. Ndevu se medebeskuldigde, Mlindi Mbaliso (34), is tot 22 jaar tronkstraf gevonnis op ʼn aanklag van moord en nog 11 jaar tronkstraf op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Britz is die aand van 16 April 2014 twee keer in die kop geskiet. Die vonnisse het egter geen verligting vir Lee-Anne gebring nie. Haar oudste seun, wat 19 jaar oud was tydens die moord, was nie by die hof nie omdat “hy niks daarvan wou weet nie” aangesien hy platgeslaan is deur die moord op sy pa.

Die ander seun, wat 11 jaar oud was ten tyde van die moord, was saam met sy ma in die hof. Volgens Lee-Anne was haar man ’n gesinsman wat “alles vir die seuns, vir ons” gedoen het. Haar enigste wens is om vas te stel wie die sneller getrek en haar man doodgeskiet het. “Miskien sal ek dan iets voel.”

Die hof het ook gehoor dat Lee-Anne medikasie vir angstigheid en depressie moet gebruik. “Hy was my alles,” het Lee-Anne gesê terwyl Kriban Pillay, die staatsaanklaer, haar in die hof getroos het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hartseer ·

Lee-Anne, ek huil saam met jou!! Niks wat ek gaan sê gaan die bittere pyn en verdriet weg vat nie. Ek weet hy was jou alles, net soos my man myne is!! Ek is net dankbaar hulle is gevonnis , ek wens net dit was die dood straf! Ek bid vir jou en jou seuns. Ek bid en ek dink aan julle in die pad voorentoe!! Baie sterkte.

Mel ·

Baie sterkte Lee-Ann, Mag God vir julle vertroosting bring deur hierdie moeilike tyd, my hart is saam jou stukkend, koester elke mooi herinnering wat jy het van julle saam. Laat geregtigheid see vier!!!! Dink aan julle

Sêmaarnet ·

BRING DIE DOODSTRAF TERUG!!!!!.
WAT help dit die varke sit in die tronk op die belastingbetalers se geld. 900 jaar sal nog steeds nie Lee-ann se man terugbring nie. Tronkstraf vergoed niemand vir die geliefde wat vermoor is nie.
MENSEREGTE???? Die regering van die dag is die grootste klug.

Hannelie ·

Lee-Ann jy is in ons gebede. Wens net die DOODSTRAF word terug gebring. Want al kry hul lewenslange vonnis, lewe hulle, maar jou man is nie meer met jou nie. Ons regering is die oorsaak van al die gemors in ons eens goeie land. Zuma ek hoop jy lees soos ons elke dag Maroela Media sodat jy kan sien in hoeveel hartseer dompel jy mense, net omdat jy en jou regering ongeerg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.