Weduwee moet operasie ondergaan ná heli-ongeluk

Magda en Chris Rorich (Foto: Verskaf)

’n Vrou van Centurion moet vandeesweek ’n rugoperasie ondergaan nadat sy en haar man die afgelope naweek in ʼn helikopterongeluk buite Brits in Noordwes betrokke was.

Chris en Magda Rorich was Sondagoggend saam met die vlieënier op ʼn vlug in ’n ligte nutshelikopter toe dit in die Krokodilrivier neergestort het. Die vlieënier is ’n kliënt van Chris se onderneming Get-a-Door en het die egpaar die betrokke oggend op ’n plesierrit geneem.

Chris (47) is in die ongeluk dood.

Magda en die vlieënier is albei beseer en na hospitale gehaas vir mediese behandeling.

Jean Lung, ʼn familievriendin, sê Magda (47) is ná die ongeluk met gebreekte ribbes, buikbeserings, asook ʼn ernstige besering aan haar lae rug in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto opgeneem.

Magda, ʼn deeltydse pastoor, was in dié stadium in ’n kritieke toestand hoewel haar toestand sedertdien effens verbeter het.

“Sy weet wat gebeur het en sy weet dat haar man dood is.”

Sy verduur nietemin steeds geweldig baie pyn en is onder verdowing geplaas.

(Foto: Hartbeespoort Emergency Medical Services)

Maroela Media het vroeër berig paramedici is Sondagoggend omstreeks 11:45 na die ongelukstoneel ontbied nadat die vlieënier uit die wrak in die water kon klim en hulp ontbied. Chris en Magda was in dié stadium in die wrak vasgekeer voordat Magda bevry en na ʼn hospitaal geneem is.

“Dit is ʼn ongelooflike skok. Chris was ʼn gesinsman en ʼn man van God. Hy was altyd gereed met ʼn goeie woord, ʼn breë glimlag en ʼn grappie of twee. Hy was ʼn voorbeeld vir baie en sy vrou se grootste fan,” sê Lung.

Die egpaar het twee kinders.

Daar is intussen met ʼn geldinsameling begin om te help met Magda se mediese en ander uitgawes. Sy is nou die gesin se enigste broodwinner. Chris se onderneming het, nes talle ander, gesteier onder die uitwerking van die Covid-19-pandemie.

Die vlieënier se toestand is nie in dié stadium aan Maroela Media bekend nie.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), het reeds bevestig dat ’n ondersoek na die ongeluk gelas is.

Kliek hier vir meer inligting oor die geldinsameling om Magda se uitgawes te help betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie ·

Baie sterkte Magda en kinders, mag God julle deur hierdie moeilike tyd dra en jou ten volle genees van al jou beserings en die seer in jou hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.