Weduwee nié terug huis toe ná ‘afgryslike aanval’

Sandra Snijders voor die aanval.

Sandra Snijders voor die aanval.

Sandra Snijders (68), die weduwee wat verlede week erg aangerand is in haar huis in uMgeni Park in die noorde van Durban, word vandag uit die hospitaal ontslaan.

Maroela Media het vroeër berig Snijders het verlede Dinsdag nie vir werk opgedaag nie, waarna haar familie in kennis gestel is. Haar seun, Bram, het by haar huis gaan ondersoek instel en sy ma aangetref waar sy bewusteloos op die vloer van haar sitkamer gelê het.

Sandra was in ʼn kritieke toestand toe sy gevind is. Sy is erg aangerand en gewurg voordat haar aanvallers die huis geplunder en gevlug het. Sandra se man is in Oktober 2016 dood en sy is nog besig om gewoond te raak om op haar eie woon.

Sandra se dogter, SJ Snijders, het gesê die aanval op haar ma was afgryslik. “My ma kan nou weer regop sit. Die kneusplekke aan haar gesig lyk steeds baie erg en sy het ook nog baie pyn. Sy is steeds by tye gedisoriënteerd, maar dit gaan beter met haar gemoed en sy vertel selfs ʼn grappie nou en dan.” SJ woon in Londen en het Donderdag in Suid-Afrika aangekom.

Sandra Snijders kort na die aanval.

Sandra Snijders kort na die aanval.

Volgens SJ sal haar ma nie terugkeer na die huis waar sy aangeval is nie. “Sy sal by familie woon en terapie ontvang en ons sal dan moontlik later kyk om haar na ʼn rehabilitasie-eenheid te skuif waar sy veilig kan voel en konstant gemonitor kan word.”

Bram het intussen aan Maroela Media gesê sy ma kan nie veel van die aanval onthou nie. “Sy onthou dit was twee mans in wit oorpakke.” Volgens Bram het sy ma nie die verdagtes geken nie.

Sandra het kneusplekke aan haar gesig, arms en bene opgedoen. Sy is op haar neus geslaan, haar lip is gesny en daar was wurgmerke aan haar nek. Volgens Bram is die verdagtes nog nie geïdentifiseer nie en is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Intussen bedryf familielede en vriende van Sandra steeds ʼn skarebefondsingsinisiatief om geld in te samel om haar mediese onkoste te dek. Besoek Sandra se GoFundme-blad vir meer inligting of om tot dié geldinsameling by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vra maar net ·

Sterkte aan families. Mag God jou seen met liefde. Word Gou gesond. Vader hou U hand van beskerming oor die blanket afrikaaner volk. Ons bid dit in die naam van onse Vader.

Annie ·

Geen mens met n hart en siel kan so iets aan n ander doen nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.