Wedvlugsport nie verbied nie

Foto: Wedvlug Duiwe Gesels, Facebook

Foto: Wedvlug Duiwe Gesels, Facebook

Die departement van omgewingsake het dit Donderdag duidelik gestel dat wedvlugsport nie verbied is nie.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het Woensdag ʼn verklaring uitgereik waarin hulle bekend gemaak het dat dit onwettig is om met wedvlugduiwe te teel, handel te dryf of die duiwe aan wedvlugte te laat deelneem.

“Wildeduiwe is uitheems en om dit as ʼn indringerspesie te klassifiseer is behoorlik,” het die departement in ʼn verklaring gesê. “Die duiwe wat algemeen in wedvlugsport gebruik word, is dieselfde as die spesie wat gelys is.” Dit is gedoen kragtens die Regulasie op Uitheemse en Indringerspesies soos vervat in die Wet op Omgewingsbestuur: Biodiversiteit.

Die departement het met spesialiste vergader en ʼn ooreenkoms bereik dat die sport nie ʼn noemenswaardige impak op die indringing van wildeduiwe sal hê nie. “Die getalle is redelik laag in verhouding met die bestaande indringing en dit is dus moontlik om ʼn vrystelling te gee vir wedvlugaktiwiteite,” het die departement bygevoeg. “Dit sal met die betrokke verenigings bespreek word.”

Die departement het ook met die NDBV vergader nadat hulle hul kommer uitgespreek het oor die moontlike mishandeling van wedvlugduiwe. Volgens dié organisasie is dit onwettig om met wedvlugduiwe te teel, handel te dryf of hulle aan wedvlugte te laat deelneem. Die NDBV het bygevoeg dit beteken verder dat dit ook onwettig is om duiwe vry te laat om aan wedvlugte deel te neem. “Ons is besorg oor die groot aantal duiwe wat tydens wedvlugte nooit hul eindbestemming bereik nie, weens uitputting of uitermatige weerstoestande,” het die NDBV gesê.

Belanghebbendes is oor die nuwe wetgewing ingelig en die NDBV moet glo enige oortredings by die departement aanmeld.

Faunty Gillmer, president van die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif-organisasie (Sanpo), het gesê hulle wil met die minister van omgewingsake vergader. Volgens Gillmer sal die nuwe wet, wat al sedert 2004 in die pyplyn is, met die 100 jaar oue sportsoort wegdoen. “Wedvlugsport is ʼn professionele sport en het onlangs ook ʼn baie duur sport geword,” het hy gesê. “Ons is lede van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok).”

Volgens Sanpo se webwerf reël en bevorder dié organisasie wedvlugsport en die skou van wedvlugduiwe. Sanpo het 5 000 lede.

Gillmer het gesê sy organisasie het ʼn brief aan die adjunkminister gerig en wag steeds op ʼn antwoord. Sanpo sal ook die hof nader indien die vergadering met die minister nie ʼn gunstige uitslag lewer nie, het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Daar is sekerlik erger dinge waaroor hulle kan kla. Die Dierebeskerings Verening doen reeds nie hul werk nie. Kyk na al die verwaarlose rondloper honde. Nou mors hulle tyd met sulke goed. Daai duiwe word geoefen en hul eienaars betaal so baie vir hulle dat hulle nooit die duiwe sal laat deelneem as hulle nie instaat is daartoe nie. Daai duiwe leef baie beter as meeste troeteldiere.

Rupert Ashford ·

Ha-ha classic. Pasop vir die “Watermelon brigade” – hulle wat kastig “groen” is aan die buitekant. Hulle is meesters van die kulkuns – adviseer jou om goedhartig iets te bewoord met edele bedoelinge en gebruik dan jou eie woorde teen jou om hulle ekstremistiese doelstellings te bevorder…

Theresa ·

Hemel hulle kan darem klomp snert uitdink om oor te moan en te verander. Dis net omdat hulle dit wil doen en glo hulle kan, want hulle kan mos alles verander soos dit hulle pas.
Daar is ernstiger dinge in ons land wat aandag verg. Ek kan nie glo wat ek alles in die koerante lees nie. Dis belaglik…………………..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.