Week 3 vir Oscar Pistorius-moordverhoor

Oscar Pistorius op 14 Maart 2014 in die hof Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 14 Maart 2014 in die hof Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool (SAPA)

Die moordverhoor teen Oscar Pistorius duur Maandag in die Pretoriase hooggeregshof voort.

ʼn Voormalige polisiebeampte het Vrydag erken dat bewyse op die misdaadtoneel besmet is. Giliam van Rensburg het gesê hy was ontsteld om te sien hoe ʼn kollega sonder handskoene die vuurwapen van Pistorius se bebloede badkamervloer af optel. “Ek het hom gevra ‘wat maak jy?’,” het Van Rensburg gesê. Hy verduidelik die ballistiese kenner het toe afgekyk en gesien hy het nie handskoene aan nie. “Hy het om verskoning gevra.” Van Rensburg het ook getuig oor een van die atleet se luukse horlosies wat van die toneel verdwyn het.

Van Rensburg, ʼn afgetrede stasiebevelvoerder, was die eerste polisiebeampte op die toneel nadat Pistorius Reeva Steenkamp op 14 Februarie by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het.

Van Rensburg het ook gesê daar was geen teken van geforseerde toegang by die huis nie.

Pistorius het onskuldig gepleit op aanklag van moord met voorbedagte rade en voer aan hy het Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien toe hy vier skote deur ʼn geslote toiletdeur gevuur het. Hy word ook beskuldig van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie en dat hy ʼn vuurwapen twee keer in die openbaar afgevuur het. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. -SAPA

Volg die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.