Week ná George-ramp: Dodetal styg

(Foto: George-munisipaliteit)

Die dodetal het tot 21 gestyg nadat ʼn woonstelgebou wat in George in aanbou was verlede Maandag skielik ineengestort het.

Die gebou het ʼn week gelede kort na middagete ineengestort. Daar word steeds na 31 mense gesoek. Minstens 15 mense word nog in hospitale behandel nadat hulle van onder die puin gered is. Altesaam 81 persone was op 6 Mei 2024 op die toneel toe die gebou in Victoriastraat ineengestort het.

Volgens die George-munisipaliteit is die primêre fokus steeds op reddingspogings. “Met dit in gedagte het ons ook proaktief planne om die identifikasie van die oorledenes te bespoedig met die ondersteuning van forensiese patologiedienste en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Ons poog om die proses te bespoedig ten einde afsluiting vir gesinne te bring.”

Die munisipaliteit het sy dank aan die beroepsgesondheid- en -veiligheidspanne op die terrein betuig vir die veiligheid van reddingswerkers. “Tot op hede was daar geen ernstige voorvalle waarby reddingswerkers of vrywilligers betrokke was nie. Elke deelnemende maatskappy is getaak om van dié beamptes aan te wys om veiligheid op die toneel te verseker.”

Bheki Cele, minister van polisie, het Sondag die toneel besoek en familielede van die slagoffers toegespreek. Hulle wou onder meer by hom weet hoekom dit so lank vat om die slagoffers te identifiseer. Cele het gesê dit is ʼn ingewikkelde proses maar dat hulle poog om dit te bespoedig.

Sihle Zikalala, minister van openbare werke en infrastruktuur, en Alvin Botes, adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, sal die toneel vandag besoek.

Die George-munisipaliteit het intussen ʼn dringende beroep op mense gedoen wat berading in Chewa, Portugees en Shona kan doen om oorlewendes en hul gesinne by te staan. Belangstellendes kan Kholiswa Jobela by 078 210 5972 of Apolus Swart by 061 504 4205 kontak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

Dit is n tragiese voorval.Die Sapd betrokke en maak uitsprake is dit hul plek?As standaarde nie so verval het in SA dan kon dit anders gewees het.

Delia ·

@Wynand. Want baie werkers in SA kom van Malawi, Zim en Mosambiek.

Vriendelike Frikkie ·

@Wynand – Want hulle sal nie Afrikaans, Engels en ander SA tale verstaan nie.

Shakespeare ·

Dis goed. Werk hard om oorlewendes te vind.
Werk net so hard om na die eienaars vd gebou te soek. Werk hard om uit te vind hoeveel was onwettige immigrante.

Swerwer ·

As alles in plek was en die daaglikse inspeksies uitgevoer was soos verwonderstel is, sal hierdie tragedie gestuit kon word. Maar nou ja, veiligheid en regte prosedure geld mos net vir die ou bedeling, deesdae pop die konstruksie maatskappye soos paddastoele op en kan nie eens ‘n tender oordentlik voltooi en saamstel nie, maar die goedkoopste tender word mos altyd aanvaar want bevoegdheid is nie meer van belang in hierdie vervalle land van ons nie.

annie ·

En die volgende ‘skok’ kom as daar nie soveel mense gevind word as wat glo in die gebou was ten tye van die ineenstorting nie. Weggedros vir dit of dat en nou tuis wag vir die eise teen die eienaars, is heel moontlik… eintlik beslis moontlik. Skoolkinders is nie eers die heeltyd in die klaskamer terwyl die onderwyser klasgee nie. Dan is die voorsitter van die VN vir seker die volgende dag hier plus die VSA se Blinken om te waarsku teen vroegtydige anargie in George so duskant die verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.