Week van rou ná student se skietdood

TUT Soshanguve. Foto: Facebook

Die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) het Maandag ʼn week van rou aangekondig nadat Katlego Andries Monareng, ʼn finalejaar regstudent, verlede Donderdag op die universiteit se Noordkampus in Soshanguve doodgeskiet is.

Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, het gesê die week van rou sal op alle kampusse van toepassing wees.

“Terwyl die universiteit die gesin bystaan met begrafnisreëlings word voorbereidings gedoen vir ’n gedenkdiens wat deur sy medestudente bygewoon sal word. As ’n openbare vertoon van rou sal die TUT-vlag tot die einde van die week halfmas hang op alle kampusse,” het De Ruyter gesê.

Prof. Lourens van Staden, visekansellier en rektor van TUT, het aangekondig dat alle bedrywighede op alle kampusse vir die res van die week ter gedagtenis aan Monareng opgeskort sal word.

Dié besluit is glo geneem nadat daar Maandag weer eens plek-plek geweld en saakbeskadiging uitgebreek het op die Soshanguve en Ga-Rankuwa-kampusse.

“Die betogings het deur die loop van die oggend oorgespoel na die Pretoria-kampus en daarom is bedrywighede daar ook opgeskort,” het De Ruyter gesê.

TUT se bestuur het weer eens sy kommer uitgespreek oor die veiligheid van studente, personeel en eiendom.

Die universiteit sal binnekort ’n aankondiging doen in verband met die akademiese plan vir die res van die semester.

Maroela Media het vroeër berig daar het Donderdagaand ʼn geskil ontstaan by TUT se Noordkampus in Soshanguve tydens ʼn verkiesing van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) wat tot ʼn bakleiery gelei het. Die polisie is ontbied. Volgens ooggetuies het die polisie glo met skerp ammunisie op studente losgebrand. Monareng is doodgeskiet en nog ʼn student is gewond.

Dit is egter nog nie duidelik of Monareng deur die polisie doodgeskiet is en of iemand anders ook skote afgevuur het nie.

“Ná die routydperk sal ’n besluit geneem word oor die weg vorentoe in terme van die verkiesings,” het De Ruyter gesê.

De Ruyter het verder gesê dat die polisie en die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) se ondersoek na Monareng se dood reeds aan die gang is. ʼn Volskaalse forensiese ondersoek na aantygings dat daar moontlik met die stemme gepeuter is en verkiesingsbedrog plaasgevind het, word ook gedoen.

Dr. Bandile Masuku, voorsitter van die TUT-raad, het tydens ʼn vergadering tussen hom, TUT se bestuur, die studenteleierskap, die uitvoerende komitee van die TUT-raad, asook afgevaardigdes van die polisie en die departement van hoër onderwys sy kommer en teleurstelling oor die gebeure by die universiteit uitgespreek.

“Die VSR-verkiesings, wat deur die VSR-grondwet bepaal word, is deel van die jaarlikse studentekalender. Ek moet myself afvra wat op die spel is dat ons die dood van ʼn student kan toelaat,” het Masuku tydens die vergadering gesê.

Dr. Raletsatsi Moraka, adjunkvisekansellier van studente- en buitemuurse aangeleenthede, het verduidelik dat die voorval wat tot Monareng se dood gelei het glo gespruit het uit ʼn beweerde tekort aan stembriewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stuiwer ·

Dis omdat hierdie bedrywighede op kampusse toegelaat word en daar nie teen die moeilikheidmakers opgetree word nie, dat sulke dinge gebeur. Ek hoop nie hierdie student was een van die moeilikheidmakers nie, want my simpatie is besig om op te droog…

Bekkie ·

Hierdie student is nie “op” die kampus geskiet nie. Hy was buite in die straat, seker deel van die betogings. Ek sê nie dit is reg nie, maar wat soek hulle daar?

Landi ·

Raak ontslae van n studenteraad in geheel. Hulle ken in elkgeval net ongehoorsaamheid en aksies gelykstaande aan terroristiese gedrag. Is daar ooit wette wat hulle kan gehoorsaam? Studenteraad is net nog n verskoning en geleentheid om barbaars te raak wat duidelik, mense se lewens kos. Hulle het ANC as n leiende voorbeeld gehad, wat anders sal n mens dan verwag, want van beter weet hulle nie. Tot dan is dit beter om n studenteraad heeltemal te skrap.

Houding ·

Disipline dissipline !!!?. WANORDE
Daar is tyd en plek vir alles, raai,… as orde vereis,
gegevra word…. volg uitgejouery ‘n gelag geskree.
Dan gebeur sulke dinge….JAMMER maar tewagte.
Gewoond daaraan? NEE!! ONTOELAATBAAR.

Amelia ·

n Kollega wat jarre vir n onderneming werk en in sleutelposisies was en waarvan van die huidige werkers omtrent 20jaar elke dag saam die persoon werk word geskiet/sterf natuurlik/siekte………. en ons rou in die stilligheid en gaan aan met ons werk.
Met die begrafnis gaan net die wat na aan die persoon was en verteenwoordig die firma.
As alle plekke moet toemaak as iemand oorlede is, waar gaan ons eindig?

marous ·

TUT die aarde ophou draai sal julle nie ophou aanjaag nie….

Nonnie ·

Kan d vlae asb landswyd ook halfmas hang vir elke boer wat vermoor word?

Estelle ·

En dan brand hulle weer als af, want hul kon nie deur al die werk kom nie?

Callie ·

Geen simpatie. Tydens vorige skades van 800miljoen moes daar ten minste n duisend geskiet gewees het. Dan was orde terug. Jammer my ou, ek huil nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.