Wéér klagtes teen Shaun Abrahams na dossier verdwyn

Mariaan du Toit en Monique Taute (Foto: AfriForum)

AfriForum het Woensdag weer klagtes van korrupsie, bedrog, diefstal, afpersing en vervalsing teen Shaun Abrahams, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, en ses ander toplede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien.

Dit volg nadat die burgerregteorganisasie in Augustus 2018 hierdie klagtes ingedien het, maar die dossier intussen verdwyn het.

AfriForum se privaat vervolgingseenheid het verskeie navrae oor die vordering van dié ondersoek aan die SAPD gerig – sonder enige beduidende terugvoer. Die SAPD het AfriForum uiteindelik ingelig dat die dossier vermis word en dat die organisasie weer die klagtes sal moet indien.

Die klagtes is aanvanklik aanhangig gemaak nadat AfriForum ’n anonieme brief ontvang het wat uitbrei oor aantygings van ernstige strafregtelike gedrag binne die NVG. Die aantygings in die brief verwys onder meer na ’n onderlangs befondsde bedrieglike eis vir reiskostes van vier lede van die NVG. Dié eise, ingedien vir goedkeuring om na Zeerust te reis, verdraai die feit dat dié persone inderwaarheid na Kaapstad gereis en R97 000 van hierdie onderlangse fondse bestee het. Die skrywer van die brief beweer ook dat ’n getuiebeskermingsvoertuig aan Abrahams toegewys is wat hy vir persoonlike doeleindes gebruik het.

Volgens Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, is AfriForum bekommerd oor die gebrek aan vordering in die ondersoekproses, asook dat die dossier skynbaar gerieflikheidshalwe verdwyn het. “Ons sal aanhou om druk toe te pas in hierdie saak om te verseker dat skuldige partye aan die pen ry. Die feit dat die dossier verdwyn het, dui moontlik daarop dat sommige partye vir een of ander rede teen vervolging beskerm word, en dit is iets wat AfriForum nie kan toelaat nie – almal behoort gelyk te wees voor die reg,” sê Taute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel ·

Dosier is net poof weg!!! Haha moet ons dit.regtig glo. Tweede Dosier gaan ook verdwyn.

Elize ·

Wonder wie se hande het vandag krampe dat die duime ondertoe wys

Francois ·

Ag nee wat. Die 2de dosier gaan ook net verdwyn. Ongelukkig is dit kriminele wat kriminele ondersoek.

Magda ·

MAAK MAAR NOG EEN OOPN AFRIFORUM – JULLE GAAN BESIG BLY, MAAR HOU AAN – AANHOUER WEN OP DIE EINDE.

Nico ·

Die saak was seker teen hom of een van sy tjommies, dit gaan so met die kriminele sake selfs met moord sake.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.